NONGQAI-FORT, ESHOWE

Aan die suidoostelike rand van die dorp Eshowe is hierdie laat-neëntiende-eeuse fort geleë.

In 1873 het die Hlubistam, wat op die voetheuwels van die Drakensberg onder die skaduwee van die magtige Champagne Castle en Cathkin Peak gewoon het, onder hul hoof Langalibalele teen die Natalse regering in opstand gekom. Na afloop van die rebellie het die regering die Natalse Berede Polisie in die lewe geroep. Dit het gedeeltelik uit Blankes en gedeeltelik uit nie-Blankes bestaan en was onder die Zoeloe as Nongqai bekend.

Hierdie polisie het by verskillende geleenthede ’n belangrike rol gespeel. Vyf-en-twintig van hulle het sir Theophilus Shepstone in 1877 op sy tog na Transvaal vergesel om hierdie gebied te annekseer; gedurende die jare 1883 tot 1888 het hulle gehelp om die woelinge in Zoeloeland wat op die terugkeer en dood van Cetshwayo gevolg het, te bekamp; in 1894 het hulle die Natalse Polisie geword en as sodanig het hulle ’n aktiewe aandeel in die Anglo-Boereoorlog en in die onderdrukking van die Bambata-opstand van 1906 gehad.

’n Afdeling van hierdie polisie het ook as lyfwag vir die resident-kommissaris van Zoeloeland, sir Melmoth Osborne, gedien. Om hulle te huisves het die Imperiale regering hierdie fort laat oprig. Dit is van baksteen gebou en voorsien van skietgate. Drieverdiepingtorings op die hoeke vorm die bastions waarop kanonne gemonteer kon word.

Ná die ontbinding van die Nongqai is die gebou vir ’n lang tyd deur die padafdeling van die Natalse Provinsiale Administrasie as ’n depot gebruik, maar in die jongste tyd is die munisipaliteit besig om dit as ’n museum in te rig.

(Geproklameer 1939)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 263-264.