
FORT QUAMONDI EN NOORWEEGSE BEGRAAFPLAAS, ESHOWE
Vanaf die Tugela loop die hoofweg in die skilderagtige kusvlakte op tot by Gingindhlovu om 24 km verder, links na Eshowe, te swaai. Hier aan die oostekant van die dorp is ’n nou begraafplaas omring deur ’n diep moot, geleë. Dit is die grondfort met die Noorweegse begraafplaas daar binne-in.
In 1879 het die Zoeloe-oorlog uitgebreek. Die Britse opperbevelhebber, lord Chelmsford, het besluit om Zoeloeland uit drie rigtings met drie leërafdelings binne te val. Die regterkolonne van 4 400 het onder aanvoering van kol. C. Pearson gestaan en is by Fort Pearson aan die Tugela saamgetrek. Op 11 Januarie 1879 het hierdie kolonne Zoeloeland by Bondsdrif, teenoor Fort Pearson, binnegetrek en na die Noorweegse sendingpos, Quamondi, by Eshowe, koers gevat. Op pad daarheen is die kolonne by Ineyzane deur ’n Zoeloemag van 5000 aangeval. Die impie is egter met die verlies van 300 man teruggeslaan, terwyl die ongevalle aan Britse kant 12 gedood en 16 gewond was.
Pearson het sy opmars na Eshowe voortgesit, waar hy by sy aankoms op 15 Januarie van die verskriklike ramp, wat Chelmsford by Isandhlwana getref het, verneem het. Bedreig deur ’n geweldige Zoeloemag was by nou verplig om op hierdie terrein laer op te slaan en ter verdediging grondwalle op te werp. Twee maande lank is hy hier deur die Zoeloe so dig ingesluit dat hy selfs sy dooies binne die laer moes begrawe. Eers op 4 April, toe die kolonne se kos- en ammunisievoorrade byna uitgeput was en die gesondheid van die manskappe deur die aanhoudende reëns grootliks ondermyn was, kon lord Chelmsford dit ontset.
Na die vertrek van die kolonne is die laer deur die Noorweegse sendelinge as begraafplaas gebruik en een van die eerste burgerlikes wat hier ter ruste gelê is, was die sendeling Oftebro, een van die stigters van die Quamondisendingpos in 1861.
(Geproklameer 1968)

Foto: Fort Quamandi • S.A. Biblioteek, Kaapstad
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 262-263.
