FORT PEARSON, TUGELARIVIER

Sowat 21 km van Stanger loop die hoofweg na die noorde oor die Tugela. Ongeveer ’n kilometer suid van die brug draai ’n gruispad regs weg om teen ’n hoogte op die wal van die rivier uit te loop. Hier ag km onderkant Bondsdrif digby die mond van die Tugela aan die ou Zoeloelandpad is die oorblyfsels van Fort Pearson geleë.

Hoewel die bewind van Mpande (1840-1872) ’n tydperk van vrede tussen die Zoeloe en die Blanke was, het daar na 1854 onrus binne Zoeloeland ontstaan as gevolg van Cetshwayo, seun van Mpande, se stryd teen sy broers om die opvolgingsreg. Op 2 Desember 1856 het hy sy broer Mbulazi in die groot slag by Ndondakusuka verslaan en gedood. As gevolg van hierdie onrus het die Natalse regering begin met die bou van sewe forte langs die Tugela om sodoende hierdie noordelike grens van hom te beveilig. Een van hierdie forte was Fort Williamson (1861) by die ou wadrif naby die Tugelamond, wat in 1878 vervang is deur Fort Pearson by die pont oor die Tugela, ’n kilometer hoër op.

In die Zoeloe-oorlog van 1879 is Fort Pearson beman deur manskappe van die Koninklike Vloot van H.M.S. Tenedos en H.M.S. Active en wel onder bevel van kol. Pearson van die Buffs. Hy was bevelvoerder van lord Chelmsford se suidelike of kuskolonne in sy opmars na Zoeloeland.

(Geproklameer 1950)

Foto: Fort Pearson • Killie Campbell-versameling

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 259-260.