ST. GEORGE-GARNISOENKERK

By Fort Napier op die heuwel ten weste van Pietermaritzburg is hierdie militêre kerkie geleë.

Vir ’n halfeeu moes die garnisoen te Fort Napier sonder ’n eie bedehuis klaarkom. Hulle moes hul dienste òf in die ope lug by die fort òf in die ou Drilsaalkerk in Loopstraat hou. Uiteindelik het die Britse Oorlogsministerie die noodsaaklikheid van ’n kerk vir die troepe besef. Dit het die terrein vir so ’n fort beskikbaar gestel en aangebied om R2 000 by te dra mits die biskop van Natal die verdere insameling van fondse en die bou van die kerk vir die Britse troepe sou onderneem.

In 1897 kon die hoeksteen van dié kerk gelê word en dit is gebou as ’n gedenkteken vir die Britse troepe, wat met Pietermaritzburg as hul basis, in die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1880-1881 en in die veldtogte teen die Zoeloe en Matebele gesneuwel het. Op 9 Oktober 1898 is die eerste diens in hierdie kerk gehou. In die Anglo-Boere-oorlog gedurende die maande Januarie tot Oktober 1900 is die kerkie as ’n militêre hospitaal gebruik, en ooreenkomstig ’n bronsplaat aan die ingang is 427 soldate hier verpleeg. Na die terugtrekking van die Imperiale troepe in 1914 het die kerk die eiendom van die biskop van die bisdom geword en word dit vir burgerlike doeleindes gebruik.

Uiterlik is die kerkie ’n eenvoudige geboutjie, maar die gedenkvensters, gedenkplate en pragtige altaarskerms binne die kerkie skep ’n atmosfeer van diepe gewydheid en is belaai met militêre herinneringe.

(Bronsplaat 1947)

Foto: Die St. George-garnisoekkerk • A.V. Farren • Natal-museum

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 246-247.