ABRAHAM FISCHER (1850-1913)
HOOF VAN SENDING OM BOERESAAK TE BEPLEIT
Abraham Fischer was die seun van George Fischer, en is op 9 April 1850 te Groenpunt, Kaap, gebore. Sy opleiding het hy aan die “South African College” Kaapstad ontvang.
In 1873 tree hy in die huwelik met ’n dogter van dr. J.R. Robertson, destyds op Fauresmith woonagtig. In hierdie tyd het hy hom ook blywend gaan vestig in die Oranje-Vrystaat, waar hy weens sy groot talente buitengewone vordering gemaak het.
Reeds in 1878, toe hy ’n jong man van slegs 28 jaar was, word hy gekies tot lid van die Vrystaatse Volksraad. Ook in hierdie hoogste wetgewende liggaam van die staat het hy hom onderskei. In 1896 word hy gekies tot lid van die Uitvoerende Raad, wat hy daarna gebly het tot met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog.
Tydens die Iaaste jare van die Republieke se bestaan, en ook gedurende die na-oorlogse jare, was hy die voorsitter van verskillende konferensies tussen die Vrystaat en Transvaal. Veral voor die uitbreek van die oorlog het hy in hierdie opsig baie tot stand gebring, omdat ’n oud-President van die Vrystaat, F.W. Reitz, toe Staatsekretaris in die Suid-Afrikaanse Republiek was, en hulle mekaar goed geken het.
Met die Bloemfonteinse konferensie van Mei 1899 tussen Kruger en Milner was hy aangewys om president Kruger by te staan as tolk.
Toe sake gedurende die oorlog ’n steeds slegter wending geneem het, is besluit om ’n driemanskap na Europa te stuur ten einde die Boeresaak daar te stel en simpatie daarvoor te wek. Die afvaardiging, wat nie veel sukses behaal het nie, het bestaan uit Fischer, wat die erkende leier en voorsitter was, en Wessels en Wolmarans. Behalwe dat hulle die verskillende Europese lande besoek het, het hulle ook ’n besoek aan Amerika gebring.
Na die beëindiging van die oorlog het hy hom weer in Bloemfontein gevestig, en weldra daarin geslaag om ’n bloeiende wetspraktyk op te bou. Sy openbare loopbaan was egter nog nie beëindig nie. Weldra sou hy weer die leiding op hom moes neem. Toe Transvaal in 1906 verantwoordelike bestuur gekry het, het hy hom aan die hoof gestel van ’n organisasie wat op ’n soortgelyke toekenning vir die Vrystaat aangedring het. In dieselfde jare en daarna was hy ook voorsitter van die Oranje-unie.
Nadat die Vrystaat ook selfregering gekry het, was hy die aangewese man om as Eerste Minister van die Oranjerivierkolonie op te tree en ’n kabinet saam te stel.
In hierdie hoedanigheid het hy hom baie beywer vir die totstandkoming van Unie, en het hy, ondanks liggaamlike ongesteldheid, ’n intieme invloed op die verloop van sake uitgeoefen. Na unifikasie word hy in die Botha-kabinet as Minister van Lande opgeneem, en vanaf 1912 was hy Minister van Lande en Binnelandse Sake.
Eerste minister van die Vrystaat ná die Tweede Vryheidsoorlog
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
