PAUL ROUX (1862-1911)

VELDPREDIKER WORD GENERAAL

Die betekenis van ds. Paul Hendrik Roux vir ons geskiedenis kan nie lig oorskat word nie. Hy was ’n man wat deur sy nobele karakter, suiwere lewenswandel en toegewyde nasieliefde homself geliefd gemaak het by sy mense en onvergeetlik vir die nageslag.

Paul Hendrik Roux het die eerste lewenslig aanskou in Hopetown op 28 September 1862. Sy eerste onderwys het hy in die Paarl geniet, daarna aan die Paarlse Gimnasium in 1882 gematrikuleer, vervolgens die admissie-eksamen vir predikante in 1884 afgelê, en ten slotte in 1889 die Kweekskool te Stellenbosch verlaat as proponent.

Ná ’n studiereis in Europa het hy hom eers as hulpprediker te Johannesburg en daarna, in 1891, as predikant te Vredefort gevestig. In Junie van daardie jaar is hy getroud met mej. Hettie Eksteen.

Vanaf Vredefort, waar hy spoedig vir hom ’n naam as prediker gemaak het, is hy in 1897 beroep na Senekal, waar hy gearbei het tot met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899.

Oortuig van die regverdigheid van die saak van die Republieke, en gehoorsaam aan die stem van sy gewete, het hy vir hom geen ander weg oopgesien as om die burgers na die Natalfront te volg nie. Hier het hy hulle nie slegs as leraar bearbei nie, dog tewens sy lot volkome by hulle ingewerp en self die wapen in die vuis geneem om te veg vir sy vaderland.

Sy beslistheid en deursig, asook sy ander edele eienskappe, het hom spoedig tot leier gestempel, en toe sake vir die Republieke skeef begin loop het, het president Steyn nie gehuiwer om hom tot generaal te bevorder nie.

In hierdie nuwe hoedanigheid het hy hom getoon ’n bekwame en versigtige leier, dog tewens ’n moedige en onverskrokke aanvoerder, en het spoedig die vertroue en geneentheid van sy burgers gewen.

Hy was vir hulle ’n voorbeeld wat hulle aangespoor het tot pligsbetragting en volharding.

Deur die verraderlike kapitulasie van Prinsloo in Julie 1900, is hy met sy kommando ook aan die vyand oorgegee en na Ceylon gestuur as krygsgevangenes.

Onder sy mede-krygsgevangenes aldaar het hy opgetree as prediker, raadgewer en pleitbesorger, dog so ’n inspirerende invloed op hulle uitgeoefen, dat die Engelse hom volkome afgesonder het van sy medeburgers, en hy gedwonge was om sy verdere lewe op Ceylon as eensame balling te slyt.

Milner het ook na die vredesluiting geweier om hom in Suid-Afrika te ontvang, ten spyte daarvan dat hy die voorgeskrewe deklarasie geteken het. Eers na persoonlike tussenkoms van generaals Botha, De Wet en De la Rey, is hy toegelaat om na sy vaderland terug te gaan. Na heelwat gesukkel is permissie hom vergun om weer tot die kansel toe te tree en sy ou gemeente te bearbei.

Gedurende die donker dae wat nou vir sy volk gevolg het, het sy grootheid helderder as ooit aan die dag getree. Hy het geweier om enige salaris te ontvang van sy verarmde gemeente, by wie hy gebly het tot 1905, toe hy na Beaufort-Wes is.

Tydens ’n reis in Niassaland in 1910 het hy slaapsiekte opgedoen, waaraan hy op 8 Junie 1911 in die pastorie te Beaufort-Wes oorlede is, diep betreur deur almal wat hom geken en bemin het as edel mens, opregte Christen, vurige patriot, en heftige stryder vir die Afrikaanse kultuur en taalregte na die oorlog.

Predikant wat geweier het om salaris van verarmde gemeente te ontvang

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Paul Roux (Ceylon en de Bannelingen, Brink)