GIDEON SCHEEPERS (1878-1902)

ONSKULDIG DEUR MILITÊRE HOF TER DOOD VEROORDEEL

Onsterflik in die hart van die Afrikaner lewe Gideon Scheepers, martelaar en held, onskuldig deur ’n Britse militêre hof ter dood veroordeel en op Graaff-Reinet gefusilleer op 18 Januarie 1902.

Hy het die eerste lewenslig aanskou op die plaas Roodepoort in die distrik Middelburg (Transvaal) op 4 April 1878. Na ’n eerste skoolonderrig op Middelburg, het hy in 1894 toegetree tot die staatsartillerie van die Suid-Afrikaanse Republiek en heliografis geword.

Gedurende sy opleiding as sulks het hy ook die geleentheid gekry om in Pretoria verder te leer. In 1898 is hy deur president Kruger aan die Vrystaatse Regering geleen om die Vrystaatse veldtelegrafie te organiseer.

Oor sy Iotgevalle ten tyde van die eerste paar maande van die oorlog is nie veel bekend nie. Bykans is hy saam met generaal Cronjé vasgekeer en gevang, dog gelukkig het hy betyds ontkom en hom by die kommando van generaal De Wet vervoeg.

’n Tydlank het hy as gewone burger op De Wet se staf gedien tot ongeveer Mei 1900, toe hy benoem is as kaptein van ’n klein verkennerseenheid. In hierdie hoedanigheid het hy aan De Wet se kommando verbonde gebly tot die einde van 1900, toe generaal Botha hom aangestel het as kommandant met opdrag om die Kaapkolonie binne te val, die Engelse verbindingslinies aldaar te teister en te probeer om Afrikaners te kry om by hom aan te sluit.

Aan die hoof van 20 Transvaalse en Vrystaatse burgers het hy Grootrivier oorgesteek – die eerste Boere-offisier wat na Desember 1900 Kaapland binnegedring en die vyand daar op eie grondgebied aangedurf het.

Om hom het hy spoedig ’n Gideonsbende van sowat 150 man – Kaapse rebelle – versamel. Met hulle het hy wondere verrig. Aanvanklik het hy in die Sneeuberge opgetree, daarna in die buurt van AliwaI-Noord en later in die omgewing suid van Graaff-Reinet.

Selfs tot in die omstreke van Worcester het hy deurgedring, en die Engelse voorradelinies en kolonnes genadeloos geteister – treine ontspoor, voorradewaens afgeneem, “Town Guards” op loop geja, en rondtrekkende troepe gevange geneem.

Deurgaans het hy hom gedra as ’n krygsman – onverskrokke, dapper en ridderlik, en sy naam was spoedig ‘n verskrikking wat elke Britse offisier onrustig Iaat voel het.

In September 1901 het hy ernstig siek geword, so siek dat hy op 10 Oktober 1901 in ’n Boerehuis agtergelaat moes word en van sy kommando afskeid moes neem. Hier is hy, in weerwil van sy ernstige siekte, gevange geneem deur die Engelse, wat hom na Matjesfontein, later na Beaufort-Wes, en ten slotte na Naauwpoort geneem het, op watter plekke hy agtereenvolgens verpleeg is.

Eindelik, nadat hy enigermate herstel is, is hy na Graaff-Reinet vervoer en aldaar op 27 Desember 1901 voor ’n militêre hof gebring en ter dood veroordeel. Oor die tragiese geskiedenis in verband met sy verhoor en fusillering op 18 Januarie 1902 hoef hier nie uitgewei te word nie. Dis een van daardie oorlogswandade wat ’n baie pynlike indruk nagelaat het.

Deur sy onskuldige sterwe het Scheepers ’n besieling geword, het hy werklik eers begin lewe in die harte van Afrikaners en vir hom ’n ereplek verower naas die allergrootste van hulle groot manne.

Bevelvoerder van ’n Gideonsbende

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Gideon Scheepers (Transvaalse Argief)