ARNOLDUS PANNEVIS (1838-1875)

NEDERLANDER WORD PLEITBESORGER VIR AFRIKAANS

Die jaar 1872 sal van geslag tot geslag as ’n uiters belangrike tydbaken in die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikaanse taal aangemerk staan. In hierdie gedenkwaardige jaar tree daar ’n figuur op wat inderdaad die eerste persoon sou wees wat die groot waarde van Afrikaans as ons volkstaal, as draer van die Afrikaanse kultuur, besef.

Hierdie man was Arnoldus Pannevis. Dit sou hierdie Nederlander wees wat in stilte, maar met krag, die eerste stoot sou gee tot die beweging om Afrikaans tot ’n skryftaal te verhef. Algemeen word Pannevis dan ook erken as die vader van die Afrikaanse Beweging, en die rol wat hy in hierdie verband gespeel het, moet verklaar word eerstens uit sy diepe godsdienstigheid, maar tewens ook uit sy buitengewoon sterk ontwikkelde nasionale gevoel en sy belangstelling in taalstudie.

Pannevis is gebore op 16 Februarie 1838 in Ouderkerk, Nederland, uit ’n gegoede burgerfamilie. Net soos sy vader en grootvader het ook hy in die medisyne gaan studeer, en offisier van gesondheid in die Nederlandse marine geword. Weens swak gesondheid het hy dit nie lank as skeepsdokter volgehou nie, en is op aanvraag in 1861 eervol ontslaan.

Daarna het hy in die lettere gaan studeer, en in 1864 sy kandidaatseksamen afgelê. Hierdie deeglik onderlegde klassikus, met sy groot kennis van die moderne Europese tale het, nadat hy gehoor het van die gebeurtenisse in die Vrystaat tussen 1848 en 1854, die begeerte gekoester om na Suid-Afrikaanse bodem te kom, waar “de Hollandsche nationaliteit zo verdrongen werd”. Dog eers op 11 Julie 1866 land hy in Kaapstad.

Van hier is Pannevis na die Paarl, om later aangestel te word as onderwyser in die klassieke tale aan die Paarlse Gimnasium. Die latere ds. S.J. du Toit was een van sy knapste leerlinge. Pannevis het op hierdie jong student ’n beslissende invloed uitgeoefen, en hom die oë en ore geopen vir die skoonhede en bruikbaarheid van Afrikaans.

Vas oortuig van die bestaansreg van Afrikaans as afsonderlike taal, het Pannevis op wetenskaplike gronde die deugdelikheid van die Afrikaanse volkstaal aangetoon. Maar hy was nie net die pleitbesorger van die waarde van Afrikaans as taal nie, “hy het ook gegloei van liefde vir sy God en die Bybelwoord.”

Wat hom pynlik getref het, was dat die Nederlandse Bybel vir duisende ’n halfbegrepe boek moes bly. Om hierdie rede wou hy graag die Bybel in Afrikaans oorgesit hê, en hy het hom geesdriftig daarvoor beywer. Op 7 September 1872 publiseer hy ’n brief in De Zuid-Afrikaan oor “De Bijbel in het Afrikaansch.”

Maar juis omdat Afrikaans toe nog steeds beskou is as ’n onbeskaafde kleurlingtaal, het sy pleidooi ’n lewendige polemiek in hierdie blad uitgelok. In dié korrespondensie het ons die eerste openbaring van die nuwe beweging, en hoewel hy nooit leier van sy lieflingsaak geword het nie, het Pannevis se optrede hier en ook later tot gevolg gehad die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875. Ook sy Bybelideaal sou sestig jaar later verwesenlik word.

Pannevis se groot verdienste is dat hy deur sy aktiewe belangstelling aan Afrikaans ’n nuwe status gegee het; “dat hy”, in die woorde van dr. E.C. Pienaar, “sekere sluimerende kragte ontdek en bevrug het met die Afrikaanse taalgedagte, met die gevolg dat hulle weldra in volle bloei sou uitbot; dat hy die Afrikaanse Bybelgedagte geplant het, wat die aanleiding sou word tot die eerste nasionale frontvorming en doelstelling – om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land”. Stil en rustig het hierdie taalbaanbreker sy laaste lewensjare op ’n boereplaas deurgebring as onderwyser. Op 14 Augustus 1884 is hy oorlede, en lê in ds. Van der Lingen se grafkelder in die Paarl begrawe.

Vader van die Afrikaanse Taalbeweging

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Arnoldus Pannevis (Plate-Atlas, Kritzinger)