HENDRIK SCHOEMAN (1840-1901)

RAADGEWER EN STEUNPILAAR VAN SY LAND

Nog ’n Transvaalse figuur wat deur sy volk misken en deur vele belaster is, en wat tog in die Suid-Afrikaanse heldery ’n ereplek verdien, is Hendrik Schoeman, seun van die Voortrekker, Stefanus Schoeman.

Hy is gebore te Pietermaritzburg op 11 Julie 1840 en het, na ’n veelbewoë loopbaan, op 26 Mei 1901 op tragiese wyse in sy huis te Pretoria verongeluk.

Aangaande Schoeman se vroegste jare is min bekend. Reeds vroeg het hy ’n voorman in sy omgewing geword, en voordat hy 31 jaar oud was, is hy gekies as Volksraadslid, ’n betrekking wat hy op so ’n bekwame wyse gevul het, dat hy in die tagtigerjare weer daarin benoem is.

Gedurende die tydperk van lydelike verset, wat op die 1877-anneksasie gevolg het, het Schoeman, deur sy onvermoeide ywer vir die herstel van die Republiek, algemene bekendheid verwerf. Hy het, as gekose lid van een van die volkskomitees, ’n leidende aandeel in die versetbeweging geneem en hom soseer onderskei, dat die Driemanskap hom benoem het as een van die veggeneraals en die beleg van Pretoria aan hom opgedra het.

Ná die oorlog is hy met verskillende belangrike ampte deur die regering belas. Onder andere het hy gedien as lid van die delgingsfondskommissie, lid van die lokasiekommissie, as naturellekommissaris, as lid van die beurskommissie, ens., en is hy ook soms deur die staat as lid of voorsitter van spesiale kommissies van ondersoek benoem.

In verband met die moeilikhede op die westergrens van die Republiek in die tagtigerjare, is hy drie maal as spesiale kommissaris van die regering na die toneel van onruste gestuur, met geheime en gewone opdragte. Daarbenewens is hy in 1883 as Volksraadslid gekies, welke betrekking hy egter moes neerlê weens te drukke werksaamhede.

In die landbou, mynwese, verkeersweë en algemene industriële ontwikkeling van die land het hy ’n lewendige belangstelling getoon, en ook deur eie ondernemings daadwerklik veel bygedra om dit aan te help. Hy het pres. Kruger en die Transvaalse regering se algehele vertroue geniet, en is steeds deur hulle beskou as ’n raadgewer en steunpilaar waarop gebou kon word wanneer dit die belange van die land geld.

Toe, gedurende die Tweede Vryheidsoorlog, die Vrystaatse suidgrens swaar bedreig is deur die Engelse strydmagte, het die Transvaalse regering Schoeman as veggeneraal aangestel en die verdediging van ’n gedeelte van daardie grens aan hom opgedra. Hy het, ten spyte van ’n ondermynde gesondheid, die plig op waardige wyse vervul tot na die oorgawe van Cronje toe, met die hergroepering van die Republikeinse kommando’s, hy teruggeroep en met die werk belas is om die gedemoraliseerde burgers tot nuwe daadkrag te probeer besiel.

Na die val van Pretoria het hy wapen neergelê – ’n daad waaroor hy deur baie streng veroordeel en selfs van verraad beskuldig is. Op hierdie aanklag het hy twee maal voor ’n Republikeinse militêre hof tereggestaan, maar is elke slag onskuldig bevind en daarmee van die smet bevry.

Sy naam behoort dan ook deur almal in ere gehou te word as dié van iemand wat dit opreg met sy volk gemeen, die belange van sy volk op sy hart gedra en vir die welsyn van sy volk geywer het.

Met belangrike opdragte deur President Kruger belas

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Hendrik Schoeman (Mnr. Johan Schoeman)