GERT VAN NIEKERK (1849-1896)

LEIER VAN DIE “REPUBLIEK” STELLALAND

Gerrit Jacobus van Niekerk was ’n doodgewone boer van Wes-Transvaal wat deur omstandighede in die jare 1882-1885 gedwing is om ’n uiters belangrike rol te speel in die wedloop tussen Britse en Transvaalse uitbreiding aan die wesgrens. Hy was inderdaad geen held op die voorposte soos ’n Piet Retief of ’n Gert Maritz nie, maar sy naam het in hierdie jare wyd en syd in die land bekend geraak.

Van sy vroeë lewe is weinig bekend. Hy is in Fauresmith se wêreld gebore in die dae van die Soewereiniteit, en was later eienaar van die plaas “Kromellenboog” in die distrik Christiana. As Transvaalse burger tree hy omstreeks 1881 op die toneel toe daar onluste uitbreek tussen die opperhoofde Mankoroane van Taungs, wat Engelsgesind was, en David Massou van Mamusa aan die Hartsrivier, wat meer na die kant van die Boere oorgehel het.

Mankoroane het die bakleiery begin, en Massou het weldra teruggeslaan. Vanaf 1882 het hy openlik blanke vrywilligers gebruik teen sy vyande en aan hulle plase as beloning belowe. Die Transvaalse regering het sy burgers verbied om vrywilligers te word, maar baie het spoedig belange in die gevegsgebied gehad; Gert van Niekerk is erken as leier van Massou se vrywilligers.

In Januarie 1883 het Massou hom as voorsitter van die “Bestuur” van die “Wollentiers” erken, en daar word in die verowerde streke wes van die erkende Transvaalse grens die eerste grondslag van ’n nuwe Boere-gemeenskap gelê. Britse verteenwoordigers was egter reeds op hul hoede, en die Britse publiek is gewaarsku dat Transvaal deur rampokkermetodes probeer weswaarts uitbrei.

Van Niekerk moes aan baie kante keer teen die botsende belange wat nou op die spel gekom het. Aan die een kant was hy met genl. Piet Joubert in verbinding, en aan die ander kant moes hy met Engelse afgesante dit klaarspeel.

In Augustus 1883 roep hy die “RepubIiek Stellaland” uit, met die hoofstad by Vryburg, en ongeveer op dieselfde tydstip kom in die omstreke van Mafeking die “Republiek Land Gosen” tot stand onder leierskap van Gey van Pittius. Britse druk op Transvaal het steeds sterker geword, en die wagwoord was – “geen Boer-uitbreding weswaarts”. Vir Van Niekerk het die wêreld steeds warmer geword: hy moes briewe skryf, rondry, mense te woord staan en uitkomsplanne beraam. Sy handigste ekskuus, so word vertel, was altyd dat “sy perde weg was” as hy nie na ’n plek wou gaan nie!

Ten einde raad het hy probeer om Stellaland by die Kaapkolonie te Iaat inlyf en met die jeugdige Rhodes saamgewerk om dit reg te kry. Die Britse regering het die hele gebied egter geannekseer en ’n paar duisend troepe onder sir Charles Warren het aan die begin van 1885 opgedaag.

Onder valse voorwendsels is van Niekerk deur Warren na Vryburg gelok en daar gearresteer op aanklag van moord op ’n sekere avonturier-niksnuts wat een van sy vroeëre vrywilligers was. Die hele saak was ’n klug wat geruime tyd aangehou het en dwarsdeur die land rasseverhoudings onder die blankes baie verhit het.

Eindelik is van Niekerk losgelaat en teen die einde van 1885 het hy van die Transvaalse regering ’n aanstelling gekry as grenskommissaris van die westelike distrikte. Tot 1895 was hy ’n voorbeeldige amptenaar in hierdie betrekking en is toe na Pretoria verplaas as polisiekommissaris.

Baie van sy briewe aan genl. Joubert en ander argiefstukke oor sy bewind in Stellaland is vandag nog in die Transvaalse argief te sien.

President van ’n kortstondige republiek

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Gert van Niekerk (Denkbeeldige tekening)