SAUL SOLOMON (1817-1892)
BAANBREKER VAN DIE PERS IN SUID-AFRIKA
Gevatheid en skerpsinnigheid, beginselvastheid en wakkere werksaamheid was die vernaamste persoonlike eienskappe van hierdie Kaapse politikus en sakeman – Saul Solomon.
Hy was die kampvegter vir verantwoordelike regering, wat in 1872 aan die Kaapkolonie toegestaan is, en dwarsdeur sy lewe die pleitbesorger vir die regte van nie-blankes in Suid-Afrika. In die ou Kaapse Parlement het hy 29 jaar lank gesit, totdat liggaamlike verswakking sy politieke loopbaan beëindig het.
Solomon was van Joodse afkoms en is op die eiland Sint Helena gebore, waar sy vader Joseph ’n vennoot was van ’n ouer broer Saul Solomon “die handelsprins van Sint Helena”. Op die eiland was verskeie ander Joodse families, van wie sommige soos Moss en Isaacs na Kaapstad verhuis het. Die bekende Nathaniel Isaacs, die Natalse baanbreker, was ook ’n tydgenoot van Saul Solomon.
As kind is die bene en onderlyf van die klein Saul vasgegespe om van ’n kindersiekte te herstel. As gevolg hiervan het sy onderlyf verdwergd gebly, hoewel sy kop en skouers normaal was. Die seun het eers in Engeland skoolgegaan en in 1831 met sy ouers en drie broers, Edward, Henry en Richard, na Kaapstad gekom, en klasse bygewoon aan die ou “South African College.”
Hy word nou vennoot van George Greig, bekend as die kampvegter vir ’n vrye pers in die dae van lord Charles Somerset. Hulle dryf ’n saak as drukkers en graveerders. Later versamel Saul Solomon ’n aansienlike vermoë as hoof van die firma Saul Solomon & Ko., wat byna alle staatsdrukwerk in Kaapstad hanteer het.
Solomon verkry ook ’n aandeel aan The Cape Argus wat in 1857 deur R.W. Murray en andere opgerig is. In 1863 koop hy die koerant as geheel, en dit bly sy mondstuk totdat hy in 1881 die saak oormaak aan F.J. Dormer.
Vanaf 1854 is hy een van die parlementslede vir Kaapstad in die Wetgewende Vergadering. Hy toon homself ’n gedugte debatteerder, en min het dit met hom in ’n woordewisseling gewaag. Op sy spesiale hoë stoeltjie het hy uur na uur gesit om die verrigtings te volg, en sy toesprake is vanaf ’n bankie gelewer. Hy was altyd streng logies in sy betoog en het geen moeite ontsien om sy toesprake deeglik voor te berei nie.
Verantwoordelike regering, die “Voluntary Bill” en die “Seven Circles Bill” word almal met sy naam in verband gebring. Op 59-jarige leeftyd trou hy met ’n Kaapstadse dame, en uit die huwelik word 5 kinders gebore, van wie een jonk oorlede is. Sy huis en biblioteek in Seepunt was sy koninkryk. As gasheer het hy daar manne van naam ontvang, onder wie Paul Kruger en biskop Colenso.
In sy later jare het sy politieke invloed heelwat gely onder die uitgesproke negrofilistiese rigting wat hy ingeslaan het in verband met naturellesake in Suid-Afrika. Hoewel hy in 1872 saam met Molteno genader is om ’n kabinet saam te stel, het hy nooit as minister gedien nie. Nogtans het baie mense hom beskou as die ware samesteller van ministeries en hom die bynaam gegee van “Warwick the King-maker”.
Hy het nooit die voorreg gehad om in die nuwe Parlementshuis in die Laan ’n toespraak te hou nie. In 1881 het sy geweldige werkkrag die weerstand van sy gestel oorweldig. In 1883 moes hulle hom na Engeland neem weens liggaamlike swakheid. Daar is hy deur sy troue gade verpleeg tot sy dood in Okt. 1892 in Argyleshire, Skotland.
Die familie Solomon tel baie lede in ons land vandag. Twee kinders van Saul Solomon se broer, eerw. Edward Solomon, het groot onderskeiding in die politiek en in regskringe verwerf. Hulle was sir Richard en sir William Solomon.
“Himself a dwarf, he towered above others by the strength of his understanding and the powers of his mind.” (Argus-Kersnommer, 1913)
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Saul Solomon (SA Mutual)
