GEORGE MCCALL THEAL (1837-1919)
BAANBREKER VAN HISTORIESE NAVORSING
George McCall Theal was ’n Kanadees van geboorte en van beroep staatsamptenaar in die Kaapkolonie. Dit was blote toeval dat hy ons grootste geskiedskrywer geword het, en deur sy onblusbare ywer aan duisende stowwerige dokumente die kleurryke drama van ons geskiedenis ontworstel het, sodat die nageslag dit vandag in eenvoudige taal kan lees.
Omstreeks 1877 het Theal begin skryf, en in April 1919 het hy in Wynberg gesterf met sy hand op die laaste proewe van sy laaste werk wat hy nog persklaar wou maak voor die dood sy vrugbare loopbaan sou afsluit. Hoeveel hierdie man met sy kinderlike, byna bewerige handskrif oor ons geskiedenis geskryf het, sal niemand seker presies vasstel nie, maar dit beloop honderdduisende bladsye.
Behalwe vroeë werkies beslaan sy reuse-arbeid 63 boekdele van gemiddeld 300 bladsye elk. Byna alles het hy in Engels geskryf, maar hy was volkome vertroud met alle argiefstukke in Nederlands en selfs in Portugees, waaruit hy die stof vir sy werke moes opdiep hier te lande en in die argiewe van Europa.
Oor sy jonger jare is min besonderhede bekend. In 1877 vind ons Theal in diens van die Kaapse Departement van Naturellesake. Hy doen diens as resident by opperhoofde aan die Oosgrens en hy leer hierdie geskiedkundige toneel van botsing tussen blanke en Bantoe ken.
Dan keer hy na Kaapstad terug en bly jarelank amptelike senior klerk in die Departement van Naturellesake. In werklikheid word hy, weens sy belangstelling in dokumente, koloniale bewaarder van die argiewe, wat juis toe in ’n jammerlike toestand van verwaarlosing verkeer het.
Met moeisame toewyding het Theal sy pad gesoek deur die doolhof van ou geskrifte wat dagteken vanaf die dae van die Kompanjie. Een boek na die ander het uit sy pen verskyn: hy was besig om sy skatkamers van historiese inligting vir die volk oop te sluit en so skryf hy dan die verhaal van blanke beskawing in ons land vanaf die dae van die Portugese tot die jaar 1884. Nie altyd het hy medewerking of aanmoediging van sy tydgenote ondervind nie, en dikwels moes hy ’n harde stryd stry teen vooroordeel, naywer of blote onkunde om sy werk voort te sit.
In beperkte kring word sy dienste egter erken, en in Julie 1891 stel die Kaapse Regering hom aan as Koloniale Historiograaf. Hierdie pos beklee hy tot sy aftrede met pensioen. Intussen word hy ook na Den Haag gestuur om argiefstukke van die Kompanjie, wat in die Kaapse Argief ontbreek, te kopieer.
Hy voer sy taak uit met byna bomenslike inspanning en noulettendheid, en vul die werk verder aan deur honderde dokumente in die argief te Lissabon af te skryf wat op die vroeë geskiedenis van Suidelike Afrika betrekking het. Hoe meer hy gewerk het, hoe meer het hy besef dat die geskiedenis van Suid-Afrika nie deur een man in ’n leeftyd kon nagevors word nie, en dit het hy op sy oudag ook gesê.
In sy rypere jare is ere-doktorsgrade in Suid-Afrika aan hom toegeken en het ook oorsese genootskappe hom met hulle lidmaatskap vereer. Aan Theal het dit nie veel verskil gemaak nie, hoewel hy opregte waardering hoog op prys gestel het: hy het die nederige en beskeie mens enduit gebly.
Doof en bysiende in sy ouderdom, werk hy in Wynberg tot sy sterwensuur aan die erfenis van onskatbare waarde wat hy aan die volk van sy aangenome vaderland sou nalaat.
I am compelled … to lay down my pen … To the utmost extent of my ability I have striven to write impartially, to do justice to every section of the people, without fear, favour or prejudice. – Theal op 81-jarige ouderdom
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: George McCall Theal (Kaapse Argief)
