NICOLAAS MANSVELT (1852-1933)

NEDERLANDER DIEN DIE ONDERWYS IN SUID-AFRIKA

Die lewensloop van dr. Nicolaas Mansvelt is in velerlei opsigte merkwaardig. Gebore in die Nederlandse dorpie Wassenaar as die oudste van agt kinders van ’n meulenaar, het hy sy moeder op jeugdige leeftyd verloor, en hom daarna op die studie vir onderwyser begin toelê aan die Nederlandse model-normaalskool, in daardie dae die “Klokkenberg”, te Nijmegen.

In 1871 begin sy onderwysersloopbaan aan ’n Christelike skool. Terwyl hy daar werk, verkry hy bevoegdhede vir Frans en Duits. Dan kom die keerpunt in sy lewe. In 1874 besoek ds. Frans Lion Cachet sy geboorteland. Hy het ’n opdrag van die bestuur van die gimnasium te Stellenbosch ontvang om in Nederland ’n bekwame dosent in moderne tale te soek. Uit agt kandidate word Nicolaas Mansvelt benoem. In 1874 vertrek hy na Suid-Afrika, om daar ’n kwarteeu lank die onderwys te dien. Wanneer die gimnasium van Stellenbosch in 1879 ’n verhoogde status ontvang (Victoria-kollege) word Mansvelt professor in Nederlands. In 1884 verskyn van sy hand “Proeve van een Kaapsch-Hollandsch Idioticon, die eerste Afrikaanse verklarende woordelys” (Kaapstad, 1884). In Stellenbosch verdedig hy die regte van Nederlands en neem kragtig deel aan die stryd teen verengelsing.

In 1890 word hy die eerste sekretaris van die Zuid-Afrikaansche Taalbond. Sy medewerkers in dié dae was die bekende professor P.J.G. de Vos, dr. Hofman en Jan Hendrik Hofmeyr. Onder sy leerlinge was o.a. Jan Christaan Smuts, James Barry Munnik Hertzog, Nico Hofmeyr, W.J. Viljoen en P.J.G. Meiring, studente wat later almal ’n belangrike rol in die samelewing gespeel het.

Weer het daar ’n verandering gewag. Op voorstel van dr. W.J. Leyds het president Kruger aan Mansvelt gevra om na Transvaal oor te kom om daar as Superintendent van Onderwys op te tree. Mansvelt het die aanbod aangeneem, en teen die einde van 1891 het hy ds. S.J. du Toit opgevolg. ’n Grootse taak het hom daar gewag. Sy strewe was om ’n suiwer Transvaalse onderwysstelsel in Christelike en nasionale sin op te bou.

Allereers het Mansvelt ’n nuwe Transvaalse onderwyswet opgestel, waarin veral nadruk op die moedertaal-onderrig gelê is. Ten opsigte van die onderwys aan kinders van die Afrikaanssprekendes is spesiale voorsiening gemaak. Die groot struikelblok waarmee Mansvelt te kampe gekry het, was die onwil van sommige bevolkingselemente (Afrikaners en Engelse) om hulle aan die bepalings van die wet te onderwerp, en die feit dat die onderwys nie onder beheer van die staat gestaan het nie. Sodoende kon die taalbeleid moeilik deurgevoer word.

Toe, kort voor die Jameson-inval, Engelse kapitaliste op die Witwatersrand met die stigting van eie skole begin het, het die Transvaalse owerheid ’n ander koers ingeslaan. Daar is ’n aantal Staatskole op die Rand gestig. Skoolgaan was nog steeds vrywillig, maar in die Staatskole is ’n poging aangewend om kinders van vreemdelinge in Afrikaanse rigting op te voed. Ten opsigte van weifelende Afrikaners was die slagspreuk van die Superintendent “Afrikaner wees jouself”. Om dit te bereik, het Mansvelt vir voldoende hoër onderwys gesorg. ’n Normaalskool, ’n meisieskool en die voortreflike Staatsgimnasium te Pretoria was die bolwerke van die stelsel.

As ’n blyk van waardering het die Universiteit van Utrecht hom in 1894 met die graad van doktor in die Nederlandse lettere vereer. Tot die intog van die Engelse in Pretoria (1900) het dr. Mansvelt op sy pos gebly. Daarna is hy uit die land verwyder. In dieselfde jaar het die Transvaalse onderwysstelsel op die wêreldtentoonstelling te Parys die hoogste onderskeiding van die wêreld ontvang.

Terug in Nederland het dr. Mansvelt hom tot sy heengaan op die versterking van kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika toegelê. Dat sy werk in Suid-Afrika waardeer is, getuig die feit dat Mansvelt in 1931 die eregraad van doktor in opvoedkunde van die Universiteit van Stellenbosch ontvang het.

“Afrikaner wees jouself”

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Nicolaas Mansvelt (Transvaalse Argief)