ABRAHAM JONKER (1905-1966)
Dr. Abraham Jonker was ’n Suid-Afrikaanse skrywer, joernalis en politikus.
Abraham Hendrik Jonker is op 22 April 1905 in die distrik Boshof in die Vrystaat gebore, maar het sy skoolopleiding ontvang nadat die gesin na Christiana verhuis het. Hy het die Transvaalse Trap II in Desember 1922 afgelê en die volgende jaar in klassieke tale, regte en teologie aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Hier het hy in 1925 sy BA-graad met lof behaal, soos die geval met al sy ander kwalifikasies was. In 1926 het hy aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch begin studeer, maar terselfdertyd sy MA-graad in Grieks, wat hy met lof geslaag het, in 1927 verwerf. Hoewel hy die Teologiese Kandidaatseksamen geslaag het, het hy hom as student in die regte laat inskryf en die kursus vir LLB gevolg. Tydens sy joernalistieke loopbaan het hy sy BA-graad in die regte deur korrespondensie verwerf. Daarna was hy in 1940 die enigste kandidaat wat die DLitt-graad met lof aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het. Sy proefskrif het gehandel oor “Die roman: sy aard, ontstaan en soort”.
In 1930 is sy regstudies onderbreek toe hy as reisende organiseerder vir die Nasionale Party in Kaapland aangestel is. In Mei 1932 het hy lid van die redaksie van Die Burger geword en later was hy drie jaar lank assistentredakteur van Die Huisgenoot. Uiteindelik was hy die redakteur van Die jongspan, die eerste Afrikaanse weekblad vir kinders. In 1932 het sy eerste twee romans, Die kanker van jare en Die plaasverdeling, verskyn. In 1936 het hy lid geword van die Verenigde Party se nuwe mondstuk, Die Suiderstem, waarvan hy van 1937 tot 1945 redakteur was. Nadat hy in 1945 uit die redaksie van Die Suiderstem getree het, het hy sy eie blad, Monitor, gestig. Dit was aanvanklik ’n tweetalige blad wat in Afrikaans en Engels uitgegee is, maar dit het later net in Engels verskyn. Dit het van 30 November af weekliks en van 16 Mei tot 26 September tweeweekliks verskyn, waarna dit ophou bestaan het. Hy het deurentyd bydraes tot verskeie publikasies gelewer, veral in Afrikaans. Hy het hom al hoe meer op letterkunde begin toespits sedert hy Stellenbosch verlaat het. Hy was medestigter en mederrdakteur van Ons eie boek in die eerste drie jaar, asook een van die stigters van die Vereniging vir die Vrye Boek, wat Afrikaanse letterkunde wou verhef tot bo die vlak van blote voorgeskrewe werk vir skole.
In 1946 het hy ondervoorsitter van die Verenigde Party (VP) geword. Op 18 Februarie 1948 het hy die Volksraadslid vir Kaapstad Tuine geword toe hy onbestrede verkies is. Tydens die algemene verkiesing op 26 Mei daardie jaar het hy teenstand van ’n onafhanklike kandidaat, HG Borcherds, gekry, maar met ’n gemaklike meerderheid van 3749 stemme gewen. In die verkiesing van 1953 het hy selfs beter gevaar en dieselfde kiesafdeling teen die Nasionale Party- (NP-) kandidaat FW Gericke gewen toe hy driekwart van die stemme op hom verenig het. Sy bundel, getiteld Leiers, het in dieselfde jaar verskyn, maar toe hy uit die VP geskop is, het hy, saam met Bailey Bekker, Arthur Barlow, Blaar Coetzee en dr. Vernon Shearer die Nasionale Konserwatiewe party gestig. Skaars drie jaar later het hy hom by die NP aangesluit. In 1958 en weer in 1961 is hy tot Volksraadslid van Fort Beaufort, wat voorheen ’n VP-setel was, verkies.
Hy was eers met Beatrice Cilliers, die suster van prof. AC Cilliers van die Universiteit van Stellenbosch, getroud en die bekende digteres Ingrid Jonkers is uit hierdie huwelik gebore. Hul huwelik het egter reeds voor Ingrid se geboorte verbrokkel. Haar verhouding met haar pa, en die verwerping wat sy hier ervaar het, is beskou as die sterkste faktore in haar sielkundige ontwikkeling. Sy was reeds vroeg in haar lewe gekant teen die NP se apartheidsbeleid en haar politieke uitlatings en gedigte soos Die kind het verdere spanning in hul verhouding veroorsaak. Hy het haar politieke uitsprake in die openbaar in die Parlement verwerp. Haar pa was ook die voorsitter van die parlementêre komitee wat die instelling van sensuur moes ondersoek. Hy was ook verantwoordelik vir wetgewing in hierdie verband; Ingrid en ander skrywers van haar tyd het dadelik ’n versetskrif hierteen onderteken. Nadat Ingrid op 19 Julie 1965 by die see by Drieankerbaai gestap het en haar eie lewe geneem het, het hy haar skrywersvriende tydens haar begrafnisdiens weggejaag; die predikant wat die diens gelei het, was glad nie bewus van die feit dat sy ‘n digteres was nie en veiligheidspolisiemanne het haar kis gedra.
Dr. Jonker is later met Suzanne Jacomina (Lulu) Brewis getroud. Na Ingrid se dood het hy oormatig begin drink en op 10 Januarie 1966, skaars ses maande na Ingrid se dood, is hy in die ouderdom van sestig jaar in Kaapstad oorlede.
deur Daantjie Badenhorst