JOHAN HENDRIK DE VILLIERS (1842-1914)
KRAGTIGE VOORSTANDER VAN FEDERASIE IN SUID-AFRIKA
Lord de Villiers, eerste Baron van Wynberg, Hoofregter van die Kaapkolonie en van die Unie van Suid-Afrika, was die vierde uit die talryke gesin van Carel de Villiers, ’n landmeter van die Paarl. Sy naam staan hoog aangeskrewe in die geskiedenis van ons regspleging, nie alleen weens die oorwegende rol wat hy as regter 41 jaar lank in ons regspraak uitgeoefen het nie, maar ook omrede van sy kragtige en waardige persoonlikheid, wat vanaf die onpartydige verhewenheid van die regbank bewegings in die hele land in oënskou kon neem en die grootste figure van sy tyd onder sy vele korrespondente en kennisse getel het.
Twee lewensoogmerke het hy bowenal gehad: hervorming van ons regstelsel en federasie in Suid-Afrika. Hy het lank genoeg geleef om op albei gebiede die vrug van sy strewe te sien.
Gebore in die landelike van meer as ’n eeu gelede, gaan hy in 1853 na die “South African College,” waar hy onder sy tydgenote ook Jan Hofmeyr tel. Sy ouers sterf albei en middele was beperk, maar hy slaag daarin om met behulp van ’n broer en van ’n beurs na Europa te gaan. Van 1861 tot 1865 studeer hy in die regte in Utrecht, Berlyn en Londen.
In 1866 is hy advokaat in Kaapstad, en reeds die volgende jaar Parlementslid vir Worcester. In 1872 word hy Minister in die eerste Kaapse Kabinet, en bereik die hoogtepunt van sy vinnige bevordering toe hy in 1873, op 31-jarige leeftyd, as Hoofregter van die Kaapkolonie aangestel word.
Baie het spottenderwys na die nuwe Hoofregter as ’n seun verwys, maar sy buitengewone persoonlike bekwaamheid en geleerdheid het spoedig alle kritiek tot swye gebring. Met die jare het die regter in waardigheid toegeneem, en sy uitsprake is selde aangetas, selfs deur die Britse Geheime Raad. In 1877 word hy sir Henry de Villiers. In 1879 lei hy ’n belangrike onderwyskommissie. In 1881 stel hy die ontwerp op van die Pretoria-konvensie en dien as lid van die koninklike kommissie wat met die Boereleiers na Majuba onderhandel.
Hy dien voorts op baie kommissies oor regsaangeleenthede. In 1888, 1893 en 1895 word hy genader om die Vrystaatse presidentskap te aanvaar. In 1892 word hy gevra om teen Paul Kruger te staan, en baie dikwels het omstandighede hom byna gedwing om tot die politiek toe te tree as Eerste Minister van die Kaapkolonie.
In 1894 gaan hy na Ottawa as afgevaardigde op die Rykskonferensie, en in 1908 stuur die Kaapse Regering hom weereens na Kanada. In 1896 neem hy sy plek in as regter op die Britse Geheime Raad. In 1899 reël hy die ontmoeting tussen Kruger en Milner, en hy stry hard om met sy groot invloed op albei partye die oorlog te verhoed.
Vanaf 1873 tot 1910 was De Villiers ook amptelike voorsitter van die Kaapse Hoërhuis of Wetgewende Raad. In hierdie hoedanigheid het hy in noue aanraking met die Kaapse politiek gebly. In 1908 word hy voorsitter van die Nasionale Konvensie, en die volgende jaar is hy een van die afgevaardigdes wat die konsep van die Suid-Afrika-Wet na Engeland neem.
In 1910 word hy lord de Villiers en terselfdertyd Hoofregter van die Unie se Appèlhof in Bloemfontein.
Hy neem waar as Goewerneur-generaal in 1912 en weer in 1914 ten tyde van die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. In Pretoria het hy, op ’n motorrit saam met genl. Botha, koue gevat en op 2 September 1914 is hy aan longontsteking oorlede.
“Dignity clothed him as with a garment, and spread its train over all the precints of his court.” – Prof. EA Walker
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Johan Hendrik de Villiers (Elliott-versameling, Kaapse Argief)
