MOSES KOTTLER (1897-1977)

GEVOELIGE UITBEELDER, VERAL VAN KINDERS

In vergelyking met die groot aantal skilders in Suid-Afrika is die beeldhouers betreklik gering. Een van die belangrikste van almal is die besonder gevoelige uitbeelder, Moses Kottler.

Kottler toon in sy portrette ’n buitengewone gawe om die karakters van sy sitters op aangrypende wyse voor te stel. Hy dwaal nooit op onbenullige details nie, maar benader sy onderwerp direk met ’n besliste bewustheid van wat hy wil vertolk.

Sy voorstelling van kinders, blank en gekleurd, is onvergeetlik deur die teerheid van sy siening en die liefdevolheid van sy behandeling. By hom is veral opvallend ’n buitengewone kennis van vorm. Hy oordryf dit selde en gebruik dit subtiel en oortuigend.

Hy bereik baie deur die eenvoud van sy toenadering. Net die essensiële interesseer hom, gevolglik is daar feitlik nooit enigiets storends in ’n werk van sy hand nie. Sy portrette toon altyd ’n verbasende gelykenis op die sitters, maar dit is klaarblyklik dat dit by hom glad nie hoofsaak is nie. Hy streef deurgaans na karakteruitbeelding.

Toe Kottler sy werke in Suid-Afrika begin vertoon het, was daar haas nog geen begrip van beeldhouwerk nie. Dit het die stryd vir hom dubbel swaar gemaak, want hy het gestreef om aan sy tydgenote die naakte, waaragtige Suid-Afrika te toon. In sy jonger dae was hy ook ’n skilder van buitengewoon goeie werke. Hy het heelwat opdragte vir portretborsbeelde gekry, maar hy het altyd gevoel dat waaragtige waardering en begrip van sy strewe in sy werk ontbreek.

Die gevolg was dat hy op een tydstip, omtrent 1926, Suid-Afrika verlaat het vir Europa, waar sy werk na reg kon waardeer word. Ons kan hom nie blameer dat hy nie hier gebly het om te veg vir ’n beter begrip en waardering nie, want die funksie van die kunstenaar is om te skep en nie op om te voed nie. Tog sou dit van groot betekenis vir die volk gewees het as hy deur middel van sy werk as voorvegter opgetree het.

Hy het mettertyd na Suid-Afrika teruggekeer en werk nou al ’n hele klompie jare hier. Op die oomblik woon hy in Johannesburg. Sy eggenote is ’n skitterende beoefenares van die weefkuns.

Kottler het lank in Palestina, Duitsland en Frankryk gewerk en gestudeer. Na sy terugkeer na Suid-Afrika na daardie studietydperk het hy ’n tentoonstelling in een van die vertrekke in die Stadhuis in Kaapstad gehou. Daardie tentoonstelling was van geskiedkundige belang aangesien dit die meeste mense vir die eerste keer in aanraking met werklike beeldhoukuns gebring het.

Die miskenning wat daar was, het hom baie bedroef, en het die deurslag gegee tot sy herbesoek aan Europa. Vandag, met die oplewing van alle kunssoorte, word die deeglikheid en aangrypende bekoorlikheid van Kottler se werk egter na waarde geskat en staan sy werk, as geheel, hoog in die agting van alle kunsliefhebbers.

Kottler het o.a. beelde gemaak van die volgende persone: Srinivasi Sastri (die bekende Indiese redenaar), William Plomer, generaal Hertzog lady De Villiers, regter De Villiers, generaal De Wet die sja van Persië, sir George Cory en baie ander. In die Kaapstadse Nasionale Kunsmuseum is sy pragtige beeld van mej. Ruth Prowse, een van die museum se kunsskatte.

Maar afgesien van sy groot betekenis as die uitbeelder van groot persoonlikhede, sal Kottler altyd bekend wees as een van die teerste en suiwerste vertolkers van die kind met al sy skugterheid, verwondering en bekoorlike naïwiteit.

Beroemde Suid-Afrikaanse beeldhouer

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Moses Kottler (Mev. M Kottler)