JH PIERNEEF (1886-1957)
VERTOLKER IN BEELD VAN DIE BOSVELD
Jacob Hendrik Pierneef was sekerlik die bekendste kunsskilder in Suid-Afrika. Sy besondere kleurgevoeligheid en vormbewustheid het sy werk ver verhef bo die destydse pynlik-noukeurige weergawes van die Suid-Afrikaanse landskap. Hy is ook belangrik as pionier, en het veral op dekoratiewe gebied ’n besonder groot rol gespeel. Hy is ’n landskapskilder, en as sodanig het hy tot nou toe ongeëwenaarde vertolkings van die Bosveld op die doek gestel.
Van Pierneef kan gesê word dat hy die eerste kunsskilder in Suid-Afrika was wat ’n skakel gevorm het met die nuwe strominge in die Europese skilderkuns. Ons kan hom nie meer “modern” noem nie, maar wel: een van die inluiers van die hedendaagse kunsstrominge. Sy werk vorm ’n onbetwisbare fondament vir die groot opbloei in die Suid-Afrikaanse skilderkuns wat omstreeks 1935 ’n aanvang geneem het.
Hy het sy volk bewus gemaak van drie van die belangrikste vereistes van die skilderkuns, nl. vorm, ontwerp en kleur. Ook het hy aan die Suid-Afrikaanse landskap ’n nuwe betekenis gegee, en mense geleer om te soek en nie net te aanvaar nie, om hul oë oop te maak vir struktuur en hul ontvanklikheid vir stemminge in die natuur te verskerp.
Pierneef is in 1886 te Pretoria gebore, die seun van ’n Hollandse boumeester. Hy het sy eerste onderrig aan die Staatsmodelskool van die Hollander Hondius gekry. In 1901, na die Anglo-Boereoorlog, het die Pierneef-familie na Rotterdam vertrek, waar die jong seun gedurende ’n tydperk van twee jaar tekenlesse aan die Akademie gevolg het en gevolglik ’n belangrike grondslag vir sy toekomstige werk gelê het. Veral is van belang dat hy gedurende daardie tyd galerye en tentoonstellings getrou besoek het, en gevolglik goed op hoogte van sake in verband met die kuns van die tyd gekom het.
Toe hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy bibliotekaris van die Staatsbiblioteek geword. Frans Oerder was toe nog in Pretoria, en Pierneef het sy leerling geword. Hy praat met groot lof van Oerder se besielende invloed en waardevolle onderrig. Vandag woon Pierneef op ’n plaas net buite Pretoria, en geniet die gulhartige ondersteuning en vurige bewondering van baie.
Pierneef se vroeë werk is tot ’n groot mate liries, en bevat onmiskenbare romantiese eienskappe. Die werk is aangrypend weens sy spontaneïteit van siening, die rake weergawe van verruklike natuurstemminge, en die charme van ’n frisse en ongebonde toenadering. Ook uit daardie tyd, omstreeks voor 1926, spruit baie bekende houtsneë wat getuig van ’n sterk gevoel vir die dekoratiewe.
Gedurende 1914 was Pierneef vir ’n studiereis in Europa, waar hy onder andere kennis gemaak het met die werk van Willem van Konijnenburg. Heelwaarskynlik is dit onder sy invloed dat Pierneef gekom het tot die byna geometriese opbou van sy skilderye. Sekere doeke bestaan uitsluitlik uit geometriese figure in die voorstelling van ’n landskap. Die gevolg hiervan was dat sy werk grotendeels gestileerd geraak het, en in die meeste gevalle slegs dekoratiewe waardes behou het. Dit spreek vanself dat werk van hierdie aard uitmuntende muurversierings uitmaak; gevolglik is Pierneef se versierings in die Johannesburgse stasie so effektief.
In sy later werk het hy sy oordrewe geometriese voorstelling Iaat vaar, nader aan die natuur gekom en, met die behoud van geometriese gevoel alleen, ’n bewonderenswaardige subtiliteit en oortuigingskrag verkry. Vandag kan Pierneef hoofsaaklik beskou word as ’n dekoratiewe landskapskilder. Hy het groot baanbrekerswerk verrig, veral van opvoedkundige aard, en aan hom sal altyd ’n waardige plek in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse kuns toekom.
’n Pionier van die moderne Suid-Afrikaanse skilderkuns
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
