JAPIE KRIGE (1879-1961)
RUGBYSPELER SONDER WEERGA
Van Jacob Daniël (Japie) Krige is byna 40 jaar gelede geskryf dat sy naam lank onthou sal word in Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis as een van die wonderwerke van sy tyd, en die nageslag sal na hom verwys as een van die manne wat agterspel in Suid-Afrika gemaak het wat dit dit tans is – die sprankelendste van moderne rugby.
Jacob Daniël Krige is op 5 Julie 1879 in die Paarlse distrik gebore, en het sy skoolopleiding te Caledon, waar sy vader, wyle ds. J.G.J. Krige, predikant was, geniet. Reeds op 16-jarige leeftyd, toe hy vir Caledon gespeel het, het hy al van hom laat hoor deur ’n besonder goeie indruk op die rugbyveld te maak.
In 1895 het hy na die Victoria-kollege gegaan om sy studies voort te sit, en dit het ook nie lank geduur nie of hierdie klein en skraal, hoewel rats en vinnige klein speler het vir hom ’n plek in die kollege se eerste vyftiental uitgespeel, nadat hy aanvanklik in die tweede span diens gedoen het. Hy het senter vir die Stellenbosse span in die eindwedstryd om die Groot-Uitdaagbeker teen Hamiltons gespeel. Dit was geen geringe prestasie vir ’n speler wat toe maar 17 jaar oud was en skaars meer as 112 pond geweeg het nie!
Voor hy 20 jaar oud was, het hy egter bewys dat hy een van die beste en gevaarlikste aanvallers in die hele land was. Vir sy tekort aan gewig en lengte het hy meer as vergoed met sy groot vaart, sy gevaarlike systappe en swenke, wat spreekwoordelik geword het, en sy groot deurdringingsvermoë.
Dieselfde jaar het hy meer as sy deel bygedra om die Westelike Provinsie andermaal die Currie-beker te laat verower, terwyl sy aandeel om Stellenbosch twee jaar agtereenvolgens die kampioenskap te Iaat buit, glad nie gering was nie. Net waar hy gespeel het, was hy die spil waarom alles gedraai het, en die naam Japie Krige was op almal in Suid-Afrika se lippe.
Ná hy die Victoria-kollege in 1900 verlaat het, waar hy ook die graad B.A. verwerf het, het hy vir ’n jaar vir die Tuine-klub in Kaapstad gespeel. Intussen het hy ’n betrekking in die Departement van Justisie aanvaar.
In 1902 het hy, na ’n jaar op CaIedon, teruggekeer na Stellenbosch, waar hy werksaam was, en het hy nuwe louere op die rugbyveld ingeoes. In 1903 het hy vir sowel Suid-Afrika as die Westelike Provinsie twee keer teen die Britse toerspan gespeel, en die besoekers het verklaar dat sy gelyke as senter nêrens in die wêreld gevind sou word nie.
In 1904, 1905 en 1906 het hy gereeld vir die Westelike Provinsie en Stellenbosch gespeel, en in Iaasgenoemde jaar is hy ook gekies as lid van Paul Roos se Springbokspan. Dit is hierdie span wat oor die beroemde Stellenbosse driekwartlyn, J.A. (Bob) Loubser, Japie Krige, Boy de Villiers en Anton Stegmann beskik het.
Die naam Japie Krige was geen onbekende in Engeland nie. Behalwe dat die Britse toerspan van 1903 gaan vertel het van die uithaler-senter met wie hulle dit te doen gekry het, het die nuusblaaie die Britse publiek veel vertel van hierdie klein, maar gedugte teenstander. En hy het dan ook veel bygedra tot die roem wat die eerste Springbokspan verwerf het en om die naam van Suid-Afrika op die oorsese sportvelde hoog te hou.
Na sy terugkeer het hy sy werk hervat op Stellenbosch, waar hy later ook assistent-magistraat was. Daarna was hy vervolgens magistraat op Cathcart, Ladybrand, en Bethlehem. In 1939 het hy afgetree.
Hy het later egter vir ’n jaar in die Onderwysdepartement in Kaapstad gewerk, en was ’n tydlang op die personeel van die Petrol-kontroleur in Kaapstad. Hy is op 11 Januarie 1908 met ’n dogter van mnr. M.G. Uys getroud en uit die huwelik is ses kinders gebore, een waarvan Uys Krige, die bekende Suid-Afrikaanse digter is.
Sy sportbedrywighede was darem nie net tot rugby beperk nie, want op die atletiekbaan het hy sy groot vaart deeglik gebruik en was in 1896, 1897 en 1898 die Victor Ludorum van die Victoria-kollege.
’n Klein maar uiters gedugte teenstander op die voetbalveld
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Japie Krige (Mej. S Krige)
