PIETER WENNING (1874-1921)

SKILDER MET KORT MAAR VRUGBARE LOOPBAAN

Een van die merkwaardigste van alle Suid-Afrikaanse kunstenaars was Pieter Wenning. ’n Hollander van geboorte, het hy Suid-Afrika as sy tuiste aangeneem en hom hier gevestig, totdat hy op die jong leeftyd van 47 jaar oorlede is.

Hy was in die diens van J.H. de Bussy se boekhandel in Johannesburg. Omstandighede het dit vir hom onmoontlik gemaak om sy lewe aan die kuns te wy, en gevolglik kon hy slegs in sy vrye tyd skilder. Dit is nie duidelik watter opleiding hy gehad het nie, maar dit word aanvaar dat hy deur die kunswerke van Mauve en die Maris broers beïnvloed is.

In 1916 het D.C. Boonzaaier, die bekende spotprenttekenaar, hom oorgehaal om na die Kaap te kom en al sy kragte aan sy kuns te wy. Die bystand van etlike bekende Kapenaars is verkry, wat die aankoop van sy werke gewaarborg het. Hy het spoedig die vriendskap van kunstenaars gewen, mense wat sy uitsonderlike talente gou ontdek het. Hy het mettertyd bekend geraak as die kunstenaar se kunstenaar.

Wenning het sy werk met die fyngevoeligheid van ’n digter en die erns van ’n denker en mistikus benader, en dit met geesdrif en ’n soort hoë avontuursdrang aangepak. Hy was ryk aan ideë, en sy kunstenaarsiel het altyd nuwe metodes nagestreef waarmee hy aan hierdie ideë uiting kon gee. Toe hy in Kaapstad aankom, was hy na gees en gemoed voorberei, ywerig in die kennis van sy potensiële kragte tot uitlewing, en oortuig van die juistheid van die pad wat hy moes bewandel. Hy het die dowwe paadjies van die stad uitgekies en hom na die klein straatjies en die woude van die Kaapse Skiereiland begeef, om aldaar sy besieling te vind.

Sy eerste tekeninge gee ’n baie duidelike beeld van sy helder begrip, sy onderskeidings- en suggestievermoë en die wyse waarop hy sy afbeelding binne self-gepaalde perke kon hou. ’n Sekere verfyning is in die lyne van sy tekeninge waar te neem. Sy gevoel vind uiting in sy tekeninge soos ook in al sy werk – die tekenaarskap is nie alleen ongeëwenaard nie, maar lewer duidelike bewys van die stemminge wat met die afbeelding daarvan gepaard gaan.

In sy wandelinge deur die bosse sou hy op ’n toneel afkom wat ’n bepaalde atmosfeer dra, en hierdie atmosfeer sou ’n intieme meegevoel en antwoord in hom uitlok. So ’n stemming sou hy dan in ’n skildery probeer weergee. Daar bestaan verskeie van hierdie werke – leersame voorbeelde van ’n voortreflike en buitengewone vertolking van ’n natuurtoestand in nouste harmonie met die gees van die skilder.

Weens die erns en sagtheid sy gemoed het die nederige en melancholiese aspekte van die natuur hom diep getref. Fynheid van bou, ’n suiwere bekoorlikheid van vorm en lyn en prag van kleur het hom met blydskap vervul. Vir hom was die natuur magtig en groots van bou, maar nietemin vol geheimsinnigheid en suggestie in die somber tone en donker skaduwees, groot in die vertes en in die boog van die lug, en daarby oneindig bekoorlik in sy stemminge. Die natuur was ’n lewende gees, ’n toevlugsoord vir sy gees en ’n verwesenliking van sy verlange.

Perspektief en stemming het hom altyd sterk aangetrek. Die opbou van sy komposisies is nooit swak of onbeholpe nie; inteendeel, altyd stewig. Daar is geen eentonigheid te bespeur nie, maar ’n volle mate van belangwekkendheid in elke skildery. Kleurritme en -skakering kom tot uiting in sy werke, maar so subtiel is die kleure, tone en kontraste saamgevleg, dat dit nie opvallend is nie, maar deur die harmonie van die skildery as geheel op die agtergrond gestel word.

Min kunstenaars het soveel invloed op andere in Suid-Afrika uitgeoefen as Pieter Wenning. Sy werk is vol stemming en dikwels somberheid, en die elusiewe, mistieke kwaliteit van die skilderye van Japan is dikwels duidelik te bespeur in sy werke. Hy was die inluier van die egte Impressionistiese beweging in die skilderkuns in Suid-Afrika, en daar kan met ’n mate van waarheid van ’n Wenning-kultus in Suid-Afrika gepraat word.

Hy is in 1921 aan sy huis te Pretoria oorlede.

Die kunstenaar se kunstenaar

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Pieter Wenning (mev. J Giliam, dr. J Luckhoff, mnr. AJ ter Beek)