BETSY DE LA PORTE (1901-1970)
GEWILDE SUID-AFRIKAANSE SANGERES
Een van die uitstaande sangeresse wat Suid-Afrika tot dusver opgelewer het, is Betsy de Ia Porte. Sy is gebore in Johannesburg op 16 Junie 1901 en het in die Goudstad gewoon en haar eerste sangopleiding daar ontvang. In 1924 is ’n beurs aan haar toegeken, wat haar in staat gestel het om vir drie jaar aan die Koninklike Musiekkollege in Londen te studeer. Voor hierdie tyd het sy reeds naam gemaak deur verskeie pryse op kunswedstryde te wen en deur haar optrede op konserte dwarsdeur die Unie. In 1924 het sy ook vir die eerste keer vanuit Johannesburg uitgesaai.
Ná voltooiing van haar driejarige studieperiode in Londen is aan Betsy de Ia Porte ’n spesiale beurs vir operastudie vir ’n verdere twee jaar toegeken. In 1926 het sy die Lisensiaatskap van die Koninklike Musiek-akademie (L.R.A.M.) en Deelgenootskap van die Koninklike Musiekkollege (A.R.C.M.) verwerf. Terselfdertyd het sy ook in die openbaar in Londen en ander stede in Engeland begin optree, en in 1928 vir die eerste keer deelgeneem aan die internasionale opera-seisoen in Covent Garden.
In 1929 het sy die Koninklike Kollege verlaat om vir twee jaar ’n kursus in operasang aan die Münchense Akademie onder die beroemde Wagneriaanse sangeres, Anna Bahr-Mildenburg, te deurloop. Tydens haar somervakansies het sy verdere spesiale studiekursusse in operasang in Berlyn en Salzburg onderneem. Aan die einde van hierdie periode het sy die diploma vir operasang en -toneelspel van die Münchense Staatsopera ontvang.
Met haar terugkeer na Londen in 1931 het sy gereeld deelgeneem aan die internasionale opera-seisoene wat jaarliks in die teater van Covent Garden gehou is. Sy het ook vir drie agtereenvolgende jare (1934-36) deelgeneem aan die Operafeeste te Glyndebourne, opgetree in operas in die “Old Vic-” en Sadlers Wells-teaters, uitgesaai van die B.B.C., konserte gehou en deelgeneem aan oratoria. Onder andere het sy ook opgetree in die gedramatiseerde weergawe van Mendelssohn se “EIija,” wat in 1934 en 1935 in die Albertsaal onder die stok van Albert Coates opgevoer is.
Ander beroemde dirigente onder wie sy opgetree het, sluit in Bruno Walter, Robert Heger, Thomas Beecham, Adrian Boult en Malcolm Sargent.
Nadat sy op hierdie wyse die hoogste Iouere as sangeres in die buiteland verwerf het, het sy in 1936 na haar vaderland teruggekeer en haar weer in Johannesburg gevestig. Sy het dadelik begin optree op konserte en het met haar ryk mezzo-sopraanstem, haar volmaakte tegniek en haar fyn, opregte vertolkings, meegewerk om die gehalte van die sangkuns in Suid-Afrika aansienlik te verhoog. Sy het ook spoedig die mees gesogte sangeres in ons land geword, beide op die konsertverhoog en oor die radio, terwyl sy ook dikwels aan opera- en oratorium-uitvoerings deelgeneem het, veral in Johannesburg.
Betsy de la Porte se bydrae tot ons kultuur is nie slegs beperk tot die verhoging van die gehalte van sang in Suid-Afrika nie. Sy het ook ’n besondere diens aan die Suid-Afrikaanse komponiste bewys deur altyd belang te stel in hul werk, altyd van hul liedere in te sluit in konsertprogramme en hulle op alle maniere aan te moedig. Sy het seker meer gedoen as enige ander sangeres om die Afrikaanse musiek te ondersteun en bekend te stel. Om die rede het van ons vooraanstaande komponiste soos W.H. Bell, Blanche Gerstman en P.R. Kirby, baie van hul liedere spesiaal vir haar gekomponeer.
’n Goeie vriendin vir Suid-Afrikaanse komponiste
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
