ABRAHAM JOSIAS SLUYSKEN – KOMMISSARIS-GENERAAL VAN 1793-1795
Abraham Josias Sluysken, ’n kommissaris-generaal, word op 2 September 1793 die laaste bevelvoerder aan die Kaap tydens die VOC-bewind.
Sluysken is op 3 Desember 1736 in Deventer, Nederland, gebore. Hy het as meester in die regte gekwalifiseer. In 1765 is hy aangestel as goewerneur van die Nederlandse handelskolonie Soerat aan die noordwes kus van Indië en tree in 1792 as direkteur van Soerat af.
Onderweg terug na Nederland doen hy in 1793 by die Kaap aan en word deur Nederburgh en Frijkenius oorgehaal om as kommissaris-generaal tydelik beheer oor die Kaap te neem tot die volgende goewerneur aangestel word. Hy was onvoorbereid vir dit wat hy moes oorneem, nie bekend met die heersende verdeeldheid in die Kaap nie en erf ’n dreigende ramp. Die Here 17 het die welstand van die Kaapse burgery afgeskeep omdat hulle die finansiële belang van die kolonie eerste gestel het. Die VOC was nou basies bankrot, die Kaapse burgers was glad nie gelukkig met Sluysken se voorgangers se hervormingsmaatreëls wat hulle as uitbuiting beskou het nie en op die buitedistrikte word die Kompanjie se gesag verwerp.
Die klimaat in die Kaapkolonie is uiters onrustig. In Graaff-Reinet vind ’n burgerverset in Februarie 1795 plaas toe Sluysken weier om die ongewilde landdros HCD Maynier terug te roep. Maynier word verdryf en alle Kompanjiesgesag afgesweer. ’n Burgerverset volg ook in Swellendam en landdros AA Faure word in Junie onthef. Hierdie twee distrikte verklaar hulself onafhanklik van die Kaap.
Europa verkeer in ’n tyd van oorlog en dit spoel oor na die Kaap. Nie net neem dit vyf maande voor inligting uit Europa die Kaap bereik nie, die Kaap se wapentuig en soldate is ook baie min wat die Kaap uiters kwesbaar laat vir ’n militêre aanval. Gedagtig aan ’n moontlike Franse aanval het Sluysken tydens sy termyn, in 1794, ’n paar klein forte by Simonstad laat oprig.
Vir beide Frankryk en Brittanje was die Kaap van strategiese belang vir ’n veilige seeroete na die Ooste. Op 11 Junie 1795 arriveer ’n Britse vloot onder bevel van admiraal George Elphinestone in Simonstad. Geen ooreenkoms kon bereik word nie, die Britse mag val by Muizenberg die koloniale verdedigers aan en verslaan hulle. Dit word opgevolg toe 6000 Britse troepe op 14 September na Wynberg opruk. Sluysken probeer die Kaap verdedig maar as militêre strateeg misluk hy klaaglik weens swak diplomatieke onderhandelingsvaardighede, gebrekkige militêre ondersteuning en besluiteloosheid. Oorgawe van die Kaap aan Brittanje vind op 16 September 1795 plaas.
In 1797 publiseer Sluysken sy Verhaal gehouden bij den Commissaris van de Caap de Goede Hoop waarin hy die gebeurtenisse aan die Kaap van 10 Junie tot 16 September 1795 beskryf.
Abraham Josias Sluysken keer op 12 November 1795 terug na Nederland. Hy was ’n getroue administrateur vir die VOC, maar nie ’n geliefde vader vir sy mense nie. Sluysken is op 18 Januarie 1799 in Den Haag oorlede.
Elizma Smith
