JAN WILLEM JANSSENS – GOEWERNEUR-GENERAAL VAN 1804-1806
Jan Willem Janssens sou uiteindelik die heel laaste Nederlandse bevelvoerder van die Kaapkolonie wees. Hy is op 12 Oktober 1762 in Nijmegen in die oostelike deel van Nederland gebore.
Reeds op die ouderdom van nege begin hy met ’n militêre loopbaan toe hy in 1771 as kadet by die Van Aylva Regiment van die Nederlandse leër aangesluit het. Hy word die vaandeldraer van hierdie regiment in 1777 , in 1785 kwartiermeester en in 1787 word hy bevorder tot eerste luitenant. Teen Desember 1788 het hy die rang van kaptein gehad. Tydens sy militêre loopbaan neem hy deel aan verskeie veldslae.
Janssens arriveer op 24 Desember 1802 in die Kaap en neem op 21 Februarie 1803 die Kaap oor by Brittanje soos bepaal is deur die Vrede van Amiens. Hy doen dit met die wete dat die vrede nie lank gaan hou nie en begin dadelik om die Kaap se verdediging op te knap. In hierdie tyd onderneem hy ook ’n reis na die binneland en stig die sendingstasie Bethelsdorp in die Oos-Kaap.
Soos verwag duur die tyd van vrede in die Kaap nie lank nie en op 16 Mei 1803 verklaar Brittanje weer oorlog. Janssens kry opdrag om die grootste gedeelte van sy Kaapse garnisoen na Java te stuur want die Bataafse regering het Java as ’n strategies belangriker besitting as die Kaap geag. Dit verswak die Kaapse verdedigingsmag aansienlik en laat Janssens met ’n garnisoen van 1900 Bataafse manne, die 5de Waldeck Bataljon en ’n paar honderd opgeleide Khoi-Khoi-soldate om die Kaap te verdedig.
Eers teen 4 Januarie 1806 kom ’n Britse mag van 10 000 man onder luitenant-generaal David Baird in Tafelbaai aan. Kaapstad, wat deur die Waldeck-bataljon verdedig is, gee dadelik in en word deur Brittanje beset. Op 18 Januarie 1806 raak Janssens by die Slag van Blaauwberg met ongeveer 1500 man met die Britse mag slaags. Met ’n groot getalle oormag verslaan Baird se Britse mag die Nederlanders maklik. Janssens is in sy regterheup gewond. Op 23 Januarie gee die Nederlanders oor en kom die Kaap onder Britse beheer.
Saam met sy garnisoen verlaat Jan Willem Janssens op 5 Maart die Kaap op die Bellona en kom op 8 Junie 1806 in Den Haag aan. Hy was ’n bekwame man. Sy loopbaan in Europa hierna sluit aanstellings in soos Kwartiermeester-Generaal, Minister van Oorlog in die Koninkryk van Nederland en ’n aanstelling deur Napoleon as Goewerneur-generaal van Franse besettings.
Jan Willem Janssens is op 23 Mei 1838 in Den Haag oorlede. Die dorp Jansenville in die Oos-Kaap is na hom vernoem.
Elizma Smith
