CORNELIS JACOB VAN DE GRAAFF – GOEWERNEUR VAN 1785-1791

Cornelis Jacob van de Graaff was van 1785 tot 1791 goewerneur in die Kaap. Hy het op 22 Januarie 1785 met sy gesin in die Kaap aangekom en het op 14 Februarie by sy voorganger oorgeneem.

Van de Graaff was ’n ingenieur van beroep wat soos sy pa by die Nederlandse kavallerieregiment aangesluit het. Hy is in April 1759 in die ingenieurskorps as senior ingenieur aangestel. Later, ten tye van sy aanstelling as Kaapse goewerneur, het hy die rang van luitenant-kolonel gehad en omgesien na die fortifikasies in die provinsie Holland op die weskus van Nederland.

Sy taak as goewerneur was onder andere om kalmte en tevredenheid onder die Kaapse burgers te bewerkstellig. Kort na sy aankoms begin hy ook ingrypende veranderinge aan die Kaapse verdedigingstelsel aanbring. Twee batterye word opgerig in Roggebaai en toevoegings word gemaak tot die Chavonnes-battery. Bouwerk vind plaas onder toesig van Louis Thibault en DM Barbier. Van de Graaff gee ook opdrag vir die oprigting van ’n hospitaal.

Hy begin ook ’n militêre opleidingsinstansie met die doel om artilleriedienste aan die Kaap te verbeter. Verdediging in die noordelike en oostelike grense van die kolonie is verbeter deur die stigting van die distrik Graaff-Reinet in 1786. In September 1787 dien hy ’n verslag in by die bestuur in Nederland oor die stand van militêre verdediging aan die Kaap.

Aan die ander kant het die ekonomie in die Kaap al meer verswak. Van de Graaff het luuks geleef maar inflasie het die hoogte ingeskiet. As goewerneur reik hy soveel papiergeld uit dat die hoeveelhede daarvan vyf keer in vyf jaar verdubbel het. Die geld is gebruik om die oprigting van die fortifikasies en hospitaal te finansier. Die Kaapse Patriotte tree in en stuur ’n afvaardiging na Nederland om hul saak, dat die goewerneur nie die Kaapse burgers ondersteun nie, aan die State-Generaal voor te lê. ’n Kommissie wat die Kaap besoek, bevind dat goewerneur Van de Graaff dikwels sy bevoegdhede oorskry en dat die geldelike posisie van die kolonie benard was.

Op 14 Oktober 1790 herroep die Here 17 vir Van de Graaff en gee opdrag dat alle militêre arbeid in die Kaap gestaak word. Hy en sy gesin verlaat die Kaap op 24 Junie 1791. In 1794 word hy in Nederland aangestel as generaal-majoor van die geniediens. Hy bedank uit die Nederlandse weermag in 1795, in ’n tyd toe die Nederlandse revolusie plaasvind, en vlug na Pruise waar hy in op 21 April 1812 oorlede is.

Van de Graaff was getroud met Hester Cornelia Reynet. Hulle het twee seuns en twee dogters gehad. Die dorp Graaff-Reinet is na goewerneur Van de Graaff en sy vrou vernoem.

Elizma Smith