HENDRIK SWELLENGREBEL – GOEWERNEUR VAN 1739-1751
Hendrik Swellengrebel se dienstermyn as goewerneur van die Kaap het op 14 April 1739 begin. Hy was die eerste en enigste VOC-goewerneur van die Kaap wat in die Kaap gebore is. Hy was ook die eerste van drie opeenvolgende Kaapse goewerneurs wat die amp beklee het vir langer as tien jaar.
Sy dienstydperk skop af tydens ’n opstand onder boere in die Paarl gelei deur ’n voormalige weermagsersant Estienne Barbier weens ontevredenheid met ’n beleid van die regering met betrekking tot die Khoi-Khoi en ’n verbod op ruilhandel. Dit lei uiteindelik tot Barbier se inhegtenisname en sy teregstelling op 14 November 1739.
Swellengrebel is op 20 September 1700 gebore. Hy was die seun van Johannes Swellengrebel, ’n Kaapse vryburger. Reeds in 1713, op die ouderdom van 13, begin hy as assistent vir die VOC werk en vorder mettertyd tot sekundus in 1737 met die rang van senior koopman.
Gedurende sy termyn is nuwe distrikte tot die kolonie toegevoeg. Gemeentes word gevestig in Roodzand en die Swartland en ’n landdrosdistrik is verklaar, wat in 1747 Swellendam gedoop is en na hom en sy vrou, Helena ten Damme, vernoem is.
Die Anglo-Franse stryd van 1744 tot 1748 waartydens Nederland Brittanje ondersteun het, het meegebring dat Swellengrebel se verantwoordelikhede toegeneem het. Hy moes voorbereidings tref vir ’n moontlike Franse aanval op die Kaap wat vele fasette ingesluit het. In 1748 bestuur hy byvoorbeeld die opleiding van admiraal Boscawen se Anglo-Nederlandse mag, wat ’n Kaapse kontingent ingesluit het, vir ’n beplande aanval op Mauritius.
Hendrik Swellengrebel word beskryf as ’n pligsgetroue en bekwame administrateur gedurende ’n tydperk van plaaslike uitbreiding en internasionale spanning. Hy het op 27 Februarie 1751 as goewerneur bedank en op 2 Maart na Nederland vertrek waar hy grond koop in Utrecht en dit die naam Kaapse Bossen gee. Hy is op 26 Desember 1760 in Utrecht oorlede.
Elizma Smith
