RYK TULBAGH – GOEWERNEUR VAN 1751-1771
Ryk Tulbagh het sy voorganger op 27 Februarie 1751 as Kaapse goewerneur opgevolg. Hy was een van die mees ervare goewerneurs wat op daardie stadium reeds 30 jaar ervaring van bestuur in die Kaap op elke vlak gehad het.
Ryk Tulbagh is op 14 Mei 1699 in Utrecht gebore. Reeds op die ouderdom van 16 het Tulbagh in 1715 vir die VOC begin werk en is hy na die Kaap gestuur vir ’n vyfjaarkontrak waartydens die Kompanjie hom kon aanwend waar hulle hom ook al benodig.
Op daardie stadium het goewerneur De Chavonnes reeds Tulbagh se potensiaal raakgesien en hom bevorder tot assistentklerk van die sekretaris van die Politieke Raad. Hiermee is sy loopbaan as administratiewe amptenaar begin. Tulbagh werk sy pad op en volg sy swaer, Hendrik Swellengrebel op as hoofklerk van die Politieke Raad in 1722 en word sekretaris van die Raad drie jaar later. In April 1739 word hy sekundes en senior koopman en beklee hierdie pos vir twaalf jaar.
Hy word vir sy termyn as goewerneur veral onthou vir sy aanpassings in 1755 aan die weeldewette uit Batavia wat bedoel was om oordadigheid onder VOC-amptenary te beperk. Slegs die goewerneur kon byvoorbeeld ’n wapenskild op sy koets aanbring, laer amptenare en hul vroue mag nie sambrele dra nie, vroue mag nie mantels dra van sy of fluweel nie, japonne met ’n sleep is verbied en alle oorbodige vertoon by begrafnisse moes vermy word.
In sy termyn vind twee pokke-epidemies in 1755 en 1767 plaas waaraan hy baie aandag spandeer het om dit onder bedwang te bring. Hy het groot belangstelling in plant- en dierekunde gehad. Die Kaap se tuine en dieretuine is deur reisigers uit die Ooste en Europa besoek wat met groot lof daarvan gepraat het. In beide die plant- en diereryk is ’n spesie na hom vernoem, genus Tulbaghia, ’n wilde knoffel en ’n skoenlapper Aeropetes tulbaghia of Bergnooientjie.
Die eerste biblioteek in die Kaap is in 1761 opgerig. Hy publiseer ook ’n stel slawewette in 1754 wat as die Tulbagh Kode bekend gestaan het, in baie opsigte die lot van slawe verbeter het en hul onder andere toegelaat het om ’n ambag te beoefen. Tulbagh het die lewe aan die Kaap verbeter deur die instelling van openbare dienste soos die skoonmaak en herstel van strate, brandbestrydingsmaatreëls en burger- en ratelwette.
Ryk Tulbagh was met Elisabeth Swellengrebel, die suster van die vorige goewerneur, getroud. Elisabeth is in 1753 oorlede. Ryk het nie weer getrou nie, maar hom na haar dood ten volle gewy aan die belange van sy mense. Waardering vir sy welwillendheid, wyse administrasie en regverdigheid het hom die titel van Vader Tulbagh besorg. Die dorp Tulbagh in die Wes-Kaap is ook na hom vernoem.
Ryk Tulbagh is op 11 Augustus 1771 na ’n lang siekbed in Kaapstad oorlede en in die Groote Kerk begrawe. Dit het ’n einde gebring aan ’n dienstermyn as Kaapse goewerneur van meer as 20 jaar.
Elizma Smith
