JOHAN ISAAC RHENIUS – WAARNEMENDE GOEWERNEUR VAN 1791-1792

Johan Isaac Rhenius was ’n amptenaar van die VOC en waarnemende goewerneur in die Kaap vir twee jaar, 1791 en 1792. Hy het in Augustus 1786 sekundes in die Kaapkolonie geword en is na die vertrek van goewerneur Van de Graaff op 24 Junie 1791 aangestel om tydelik as goewerneur waar te neem en beklee hierdie posisie tot 4 Julie 1792. Daarna word Rhenius weer aangestel as sekundes.

Later in 1795, met die aanvang van die Britse bewind aan die Kaap, bly hy aan in die regering in die ampte van belastinggaarder en tesourier. Hy word ook weer aangestel as kommissaris-politiek van die kerk. Sy taak met hierdie posisie was om die regering te verteenwoordig by kerkvergaderings en te verseker dat die kerk nie sy magte oorskry nie.

Op 2 Maart 1792 onderteken Rhenius ’n proklamasie na aanleiding waarvan die eerste poskantoor in die Kaap, in een van die vertrekke in die Leerdam-bastion van die Kasteel, ingerig word. Hy stel ook vir Adriaan Vincent Bergh aan as die eerste amptelike posmeester.

Rhenius is in September 1750 in Kaapstad gebore en daar op 4 Oktober 1750 gedoop. Hy was die seun van Johannes Theophilis Rhenius, die eerste magistraat van Swellendam. Hy was getroud met Dorothea Hendriks Cruijwagen. Die egpaar het nie kinders gehad nie.

In 1803 word die Kaap oorhandig aan die Bataafse republiek. Johan Rhenius verlaat op hierdie stadium die Kaap en vestig hom in Duitsland. Hier sterf hy op 27 Julie 1808.

Elizma Smith