JACOB ABRAHAM UITENHAGE DE MIST – KOMMISSARIS-GENERAAL VAN 1803-1804

Op 25 Maart 1802 word die Vrede van Amiens in Frankryk onderteken. Dit bring tydelik ’n einde aan die vyandigheid tussen Frankryk, Spanje en die Verenigde Koninkryk. Een van die bepalings in hierdie verdrag was dat Brittanje die Kaapkolonie, wat hy in 1795 oorgeneem het, aan die Bataafse Republiek moet teruggee.

Die Nederlandse kommissaris-generaal, Jacob de Mist, word deur die Bataafse regering na die Kaapkolonie gestuur om die Kaapkolonie in ontvangs te neem by Brittanje, ondersoek in te stel na die manier waarop die Kaap regeer moet word en dan ’n toekomstige administratiewe model vir die Kaapkolonie voor te stel en ’n verslag voor te lê. De Mist se termyn in die Kaap het begin op 21 Februarie 1803 toe die Nederlandse vlag weer by die Kasteel gehys is.

Jacob Abraham Uitenhage de Mist is op 20 April 1749 in Zaltbommel in Nederland gebore. Hy het in die regte studeer aan die Universiteit van Leiden, begin werk as ’n prokureur, geleidelik opgang gemaak en tot die politiek toegetree en verskeie posisies beklee. In 1795, met die ontstaan van die Bataafse Republiek, word hy tot goewerneur-generaal bevorder.

Reeds op 1 Maart 1803 stel De Mist vir luitenant-generaal Jan Willem Jansens aan as volgende goewerneur. Hy stel ’n Politieke Raad en Raad van Justisie in en onderneem ’n reis na die binneland. Tydens ’n besoek aan die sendeling JT van der Kemp in 1804 proklameer hy ’n nuwe gebied. Dit het later ter ere aan hom die naam Uitenhage gekry.

Ook in 1804 stel De Mist in Meimaand ’n kommissaris van veelteelt aan en vaardig op 25 Julie die Kerkorde en op 11 September ’n Onderwysordonnansie uit.

Op 25 September 1804 lê hy die tuig neer as kommissaris in die Kaap, vertrek in Februarie 1805 terug na Nederland en lê later die jaar ’n verslag voor aan die Bataafse regering met sy besluite en handelinge in die Kaap. Hy sterf op 3 Augustus 1823 in Voorburg, Nederland.

Elizma Smith