PIETER VAN RHEEDE VAN OUDTSHOORN – AANGESTEL MAAR STER TER SEE ONDERWEG

Baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn was aangestel om as goewerneur in die Kaap oor te neem na die afsterwe van Ryk Tulbagh in 1771.

Pieter van Rheede van Oudtshoorn is in Utrecht in Nederland op 8 Julie 1714 as die seun van ’n edelman gebore. Van Rheede is een van die ou families in Europa. Van Oudtshoorn is by die oorspronklike van bygevoeg omdat die familie vir ’n periode landhere in hierdie voormalige dorpie in Suid-Holland was. Hy was getroud met Sophia Catharina Boesses.

In 1741 kom Van Rheede van Oudtshoorn vir die eerste keer in die Kaap aan op die skip De Duijff as amptenaar van die VOC. Hy beklee die pos van fiskaal vanaf September 1741 tot September 1762 en die van sekundes vanaf Desember 1760 tot April 1766. In dieselfde jaar keer hy terug na Nederland sonder sy kinders wat in die Kaap aanbly.

In 1743 het goewerneur Swellengrebel grond aan hom grond toegestaan teen Tafelberg in die area tussen Hofstraat en Kloofstraat. Dit staan bekend as Tuin Oudtshoorn en is vandag die woonbuurt Tuine in Kaapstad. Hier het sy seun, William Fredinand, later die bekende woning Saasveld gebou wat in Kaapstad afgebreek is, in die 1960’s in Franschhoek herbou is en vandag die Franse Hugenote-museum huisves. Na sy dood is Tuin Oudtshoorn verdeel in drie verskillende eiendomme, La Belle Alliance, Trafalgar en Mount Nelson waar die bekende Mount Nelson Hotel vandag is. Met sy terugkeer na Nederland in 1766 koop Van Rheede van Oudtshoorn ook daar die Drakensteyn-kasteel.

In 1772 stel die VOC Pieter van Rheede van Oudtshoorn aan as goewerneur aan die Kaap na die afsterwe van goewerneur Tulbagh. Hy vertrek na die Kaap op die skip Asia maar raak tydens die reis siek en sterf ter see op 23 Januarie 1773 voor hy sy amp in die Kaap kon opneem. Op 17 April 1773 ontvang hy ’n staatsbegrafnis in Kaapstad en word in die Groote Kerk begrawe. Sy grafsteen is na die vergroting van die kerk in 1841 verwyder en teen die kerk se oostelike muur vasgesit. ’n Skets van sy begrafnisoptog word vandag in die Atlas van Stolk-museum in Rotterdam bewaar.

Pieter van Rheede van Oudtshoorn is die stamvader van hierdie familie in Suid-Afrika. Die dorp Oudtshoorn in die Suid-Kaap is na hom vernoem.

Elizma Smith