HERVORMINGSKOMMISSIE: SEBASTIAAN CORNELIS NEDERBURGH EN SIMON HENDRIK FRIJKENIUS – 1792-1793

In 1791 stel die VOC nie dadelik weer ’n goewerneur in die Kaap aan nie. Die waarnemende goewerneur, Rhenius, word ook teen middel 1792 weer aangestel in die amp van sekundes. Die finansiële wanbestuur van die vorige goewerneur, Van de Graaff, het die ekonomie in die Kaap dramaties verswak en ’n krisis geskep. Die State-Generaal gryp in by die situasie in die Kaap en stuur in November 1791 ’n Hervormingskommissie uit Nederland met die opdrag om sake in die Kaap ernstig te ondersoek en al die nodige te doen om die toestand te verbeter. Die kommissie kom op 18 Junie 1792 in die Kaap aan. Vir ongeveer 15 maande werk twee kommissarisse, Sebastiaan Cornelis Nederburgh en Simon Hendrik Frijkenius, in die Kaap om probleme op te los, maar vind dit uiters moeilik om konstruktiewe langtermynhervormingsmaatreëls in te stel.

Uitgawes is besnoei deur sekere ampte af te skaf en ander amptenare se take te vermeerder. Sluikhandel is onderdruk. Om inkomste te verhoog, is nuwe belastings ingestel soos vendusieregte, hawehoof- en kraangelde op skepe en nuwe doeaneregte op ingevoerde goedere, belasting is gehef op rytuie wat vir “gemak en vermaak” aangehou is en oordragskoste op vaste eiendom is verhoog. Die eerste bank is opgerig en oorsese vryehandel met eie skepe is toegelaat.

Die maatreëls het egter nie die gewenste effek gehad nie. Daar was groot ontevredenheid met baie van hierdie hervormingspogings en van vryehandel kon nie veel kom nie, weens ’n skaarste aan skepe. Op 1 September 1793 het Nederburgh en Frijkenius die administrasie van die Kaap oorhandig aan die volgende kommissaris en het albei na Batavia vertrek op hul volgende opdrag.

Wie was hierdie twee manne?

Sebastiaan Cornelis Nederburgh is op 7 Maart 1762 in Den Haag gebore, aan die Universiteit van Leiden gestudeer en as regsgeleerde gekwalifiseer. In 1785 word hy aangestel as advokaat in die State-Generaal. Twee jaar later volg ’n aanstelling as advokaat vir die VOC. In hierdie posisie is hy die ontwerper van al die Kompanjie se uitgaande dokumente en ook VOC-verteenwoordiger in die State-Generaal.

Nederburgh is op 3 Augustus 1811 in sy geboortestad in Nederland oorlede. Die plaas Nederburg in die Paarl is na Sebastiaan Cornelis Nederburgh vernoem. Hierdie plaas is in 1791, kort voor Nederburgh se aankoms in die Kaap, toegeken.

Simon Hendrik Frijkenius is in 1747 in Utrecht in Nederland gebore. Hy het vlootopleiding ontvang en het in 1776 ’n luitenant in die Admirale kollege in Amsterdam geword. Hy vorder mettertyd tot die range van luitenant-kolonel en vlootkaptein in diens van Nederland. Hy is op 7 Junie 1797 in Batavia oorlede.

Elizma Smith