JOACHIM AMMENA VAN PLETTENBERG – WAARNEMENDE GOEWERNEUR VAN 1771-1772 EN 1772-1774; GOEWERNEUR VAN 1774-1785
Joachim van Plettenberg was die 16de goewerneur in die Kaap nadat hy aanvanklik waargeneem het na die afsterwe van Ryk Tulbagh. Hy is op 18 Mei 1774 permanent aangestel in die amp nadat Tulbagh se verkose opvolger, baron Van Oudsthoorn, onderweg na die Kaap in Januarie 1773 ter see oorlede is.
Van Plettenberg is op 8 Maart 1739 in Leeuwarden, die hoofstad van Friesland in Nederland, gebore. Hy kom uit ’n aristokratiese familie met die titel van baron, het na skool gaan studeer en ’n graad in die regte verwerf, en is tot die State-Generaal verkies. Sy werksloopbaan begin met ’n aanstelling as junior regsoffisier of adjunkfiskaal in Batavia in 1765. Twee jaar later word hy aangestel as onafhanklike fiskaal in Kaapstad.
Tydens sy termyn as goewerneur reis hy vir drie maande deur die kolonie en besoek al 47 buiteposte wat op daardie stadium bestaan het. Tydens hierdie reis kom hy op 5 November 1778 op ’n plek waar hy op 6 November ’n historiese VOC-bakenklip, bekend as die Plettenbergbaken, oprig. Hyself vernoem hierdie plek Plettenbergbaai.
Tydens hierdie reis word ook die grense van die Kaap opnuut vasgestel. Met behulp van kaptein Robert Gordon wat Xhosa kon praat, gaan Van Plettenberg ooreenkomste aan met Xhosakapteins dat die Visrivier as Oosgrens beskou sal word onbewus daarvan dat hy met ondergeskikte kapteins onderhandel en hierdie grense nie gehandhaaf sou word nie. In 1779 bereik die spanning tussen veeboere en Xhosas duskant die Visrivier breekpunt en breek die Eerste Grensoorlog uit wat eers in 1781 beeïndig word.
In die Kaap self het vryburgers al meer begin opstaan teen die bewind van die VOC wat nog altyd die Kaap as besitting beskou het waaruit maksimum wins verkry moes word en waarin die vryburgers feitlik geen sê gehad het nie. Naamlose geskrifte wat politieke bewussyn by Kaapse burgers moes aanwakker, het al meer in omloop gekom. ’n Groep burgers, bekend as die Kaapse Patriotte, stuur in Mei 1779 ’n afvaardiging met ’n versoekskrif na Nederland, waarin onder andere wanpraktyke uitgewys word, beter verteenwoordiging in rade versoek word en ekonomiese versoeke gerig word.
Van Plettenberg se teenreaksie hierop was om sy bedanking in te dien en te beweer dat die meerderheid Kaapse burgers tevrede was met die stand van sake in die Kaap. Hy word egter versoek om langer aan te bly omdat die Vierde See-oorlog teen Brittanje in 1780 uitgebreek het.
Die Wolraad Woltemade-heldedaad het tydens sy ampstermyn op 1 Junie 1773 plaasgevind.
Op 14 Februarie 1785 lê Van Plettenberg sy amp as goewerneur neer en vertrek terug na Nederland waar hy op 18 Augustus 1793 in die stad Zwolle oorlede is.
Elizma Smith
