ADRIAAN VAN KERVEL – GOEWERNEUR VAN 1737-1737
Ná die uittrede van Jan de la Fontaine het die VOC Adriaan van Kervel aangestel as goewerneur in die Kaap. Sy termyn het op 31 Augustus 1737 begin.
Van Kervel is in 1681 in Den Haag gebore. Hy het reeds op 3 Februarie 1708 in die Kaap aangekom en die pos van assistent van die sekretariaat van die Politieke Raad beklee. Hy was lid van die Raad van Justisie. In 1717 het hy sekretaris van die Politieke Raad geword. In 1725 volg hy Cornelis van Beaumont op as fiskaal en word bevorder tot sekundes (adjunkgoewerneur). Van 1726 tot 1727 was hy voorsitter van die weeskamer en het weer hierdie pos beklee van 1730 tot 1737.
Na slegs drie weke as Kaapse goewerneur sterf Adriaan van Kervel op 19 September 1737 ná ’n kort siekbed. Sy dienstermyn was daarmee die kortste van ’n aangestelde Kaapse bevelvoerder tydens die VOC-tydperk.
Min inligting is beskikbaar oor gebeure in so ’n kort dienstermyn. Die Morawiese sendeling, George Schmidt, die eerste Protestantse sendeling in Suider-Afrika, het in 1737 na Suid-Afrika gekom. Op 4 September 1737 het die goewerneur toestemming verleen en aan hom die nodige lewensmiddele verskaf om saam met ene korporaal Kampen na ’n buitepos by Riviersonderend te reis en daar ’n huis op te rig en sendingwerk te doen.
Adriaan van Kervel se vrou was Aletta Corsenaar met wie hy op 14 Junie 1716 in die Kaap getroud is. Hulle het vyf kinders gehad. Sy is kort na hom oorlede.
Elizma Smith
