ALBERT VAN BREUGEL – WAARNEMENDE KOMMANDEUR 1672-1672

Ná die afsterwe van Pieter Hackius op 30 November 1671 het ’n periode gevolg waartydens die administrasie van die Kaap deur ’n Politieke Raad waargeneem is. Albert van Breugel is in 1672 aangestel as koopman en sekundus (tweede in bevel) in die Kaap. Aangesien die aangestelde bevelvoerder nog nie gearriveer het nie, is Van Breugel in April 1672 aangestel om in die interim waar te neem as kommandeur van Kaap die Goeie Hoop.

Hierdie aanstelling het gestrek tot 2 Oktober 1672, dus ’n periode van ongeveer ses maande, toe die nuut aangestelde Isbrand Goske oorgeneem het. Goske het vinnig laat blyk dat hy nie gelukkig was met hoe Van Breugel die administrasie en veral die finansies hanteer het nie. In Februarie 1676 is Van Breugel na Batavia gestuur. Hier is hy in Augustus kwytgeskeld op Goske se aanklagte. In 1680 is hy verkies as lid van ’n burgerlike raad, die College van Schepenen van Batavia en in Januarie is hy bevorder tot sekundes in Banda met die titel van senior koopman. Hy het egter slegs na ’n maand op eie versoek afgetree weens swak gesondheid,

Die Kaapse nedersetting was op hierdie stadium reeds 20 jaar onder VOC-bestuur en buiten Tafelbaai is Houtbaai en Saldanhabaai ook gevestig. Die eerste brandewyn in Suid-Afrika is in hierdie tyd gedistilleer op die Nederlandse skip De Pijl wat voor anker gelê het in Tafelbaai-hawe.

Albert van Breugel is in 1687 oorlede.

Elizma Smith