AMAJUBABERG, DIST. NEWCASTLE

W​es van die pad van Newcastle na Volksrust, skaars vyf kilometer suid van Charlestown is die geskiedkundige Amajubaberg, wat ook soms as Spitskop of Colleyskop aangedui word, geleë. Vanaf Majubashalte loop ’n paadjie oor die plaas Laingsnek waarlangs hierdie berg bereik kan word.

In 1877 het Groot-Brittanje op verrassende wyse die onafhanklike Zuid-Afrikaansche Republiek geannekseer. Aanvanklik lamgeslaan deur Engeland se eiemagtige optrede en deur hulle eie magteloosheid het daar egter geleidelik ’n onkeerbare verset van die Boere teen die Britse gesag gegroei. Vanaf 8 tot 14 Desember 1880 het ongeveer 6 000 burgers te Paardekraal byeengekom, die ou Volksraad as die hoogste wetgewende gesag herstel en besluit om die wapens vir hul onafhanklikheid op te neem. Die sogenaamde Eerste Vryheidsoorlog het uitgebreek.

Vir die oeremagte het die grootste bedreiging vanuit die Britse kolonie van Natal gekom. Van hier het genl. Sir George Pomeroy Colley met 1 400 man teen die opstandige Boere opgeruk. Komdt.-genl. Piet Joubert het dadelik besluit om hierdie gevaar die hoof te bied. Met 800 man het hy in die rigting van Natal getrek en teen die einde van Januarie 1881 by Laingsnek net ten suide van Volksrust stelling ingeneem. Vyf en ’n half km verder suid by Mount Prospect was Colley se kamp nou reeds opgeslaan. Op 28 Januarie het die Boere by Schuinshoogte, naby Ingogo, en op 8 Februarie by Laingsnek Britse aanvalle afgeslaan.

Genl. Colley het nou besluit om Amajubaberg met ’n gedeelte van sy mag te beset. Hier bergpunt het Laingsnek beheers en vandaar sou hy die Boerestellings aldaar met sy kanonne kon bestook en terselfdertyd die hoofpad oor die nek in besit kry. In die nag van 26 Februarie het hy met ’n leërmag vanaf sy kamp Mount Prospect Amajubaberg van die suidekant beklim. Hy het met hom meegeneem 693 man en 35 offisiere behorende tot drie afdelings van die 92te Hooglanders, die 2de afdeling van die 58te Regiment, die 2de afdeling van die 60ste Rifles asook 54 man van die Marine Brigade van die H.M.S. Dido.

Teen dagbreek op 27 Februarie het die Boere tot hul verbasing die Britse troepe bo-op die bergkruin gewaar en teen sewe-uur is vandaar ’n paar skote op die Boerekamp gelos. Daar was egter weinig drif in die bombardement, want Colley het hom blykbaar baie veilig hier op die berg gevoel. Genl. Joubert het egter besluit dat die Engelse daar moet af. Honderd-en-vyftig vrywilligers uit al die kommandantskappe is dus onder aanvoering van burgeroffisiere D. Malan, S. Roos en J. Ferreira die berg uitgestuur.

Die optrede van hierdie vrywilligers was verbasend stoutmoedig en verrassend suksesvol. Teen elfuur die môre was die stellings teen die berghang meestal in hul besit. Teen eenuur was die eerste Boere bo-op die berg. Die Hooglanders, hoewel hulle hul dapper verweer het, was nie teen die verwoede aanval bestand nie, en teen drie-uur was die slag verby. Genl. Colley het gesneuwel daar waar hy op die kruin sy manskappe aangevoer het. Twee-en-negentig Engelse het gesneuwel, 134 is gewond, 59 gevange geneem en die res het die berg teen dieselfde suidelike hang, waar hulle die vorige nag opgeklim het, afgevlug. Aan Boerekant het twee gesneuwel en is vyf gewond.

Op die plek waar Colley gesneuwel het, is later ’n gedenkteken opgerig. Hy is egter in sy kamp by Mount Prospect begrawe.

Die slag van Amajuba het gelei tot ʼn wapenstilstand en die vredesonderhandelinge by O’Neil se huis.

(Geproklameer 1941)

Foto: O. Landsberg • Die slag van Amajuba • Africana-museum, Johannesburg

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 284-285.