ANDREW MURRAY (1828-1917)

GODSMAN – DENKER – SENDINGVRIEND

O​nder die groot manne van ons kerk in Suid-Afrika staan die rysige figuur van Andrew Murray hoog uit. Godsman, denker, werker, leier en pleganker van sy geloofsgenote was hy in sy lang lewe van bykans 90 jaar.

Hy was die seun van Andrew Murray snr. Van Graaff-Reinet, en het in die pastorie aldaar die eerste lewenslig gesien. Saam met sy broer John gaan hy na Aberdeen, Skotland, en hulle behaal saam in 1845 die graad M.A. Daarna gaan hulle na Nederland om as Evangeliedienaars verder opgelei te word.

Op sy twintigste verjaarsdag word die jong Andrew georden en sy eerste gemeente is Bloemfontein – pasgestigte hoofstad van die gebied oorkant die Oranje waar die vorige jaar die Britse vlag gehys is. Sy gemeente was feitlik die ganse Vrystaat, en die ossewa was sy woning. Met vuur en ywer het hy sy taak aangepak en ook nog kans gehad om die emigrante oorkant die Vaalrivier te besoek.

Op politieke gebied was dit moeilike jare. Murray was gekant teen die Bloemfontein-konvensie en het selfs in 1854 na Engeland gegaan om te protesteer teen die opheffing van Britse gesag in die Vrystaat. In die moeilike jare van die eerste Basoetoe-oorlog het hy nog sy mense bearbei, maar in 1860 ’n beroep na Worcester aangeneem.

Tydens sy verblyf daar was daar ’n wonderbaarlike godsdienstige herlewing wat na ander gemeentes versprei het. In 1862 word hy op vier-en-dertigjarige leeftyd tot Moderator gekies. Dit was ’n dubbele onderskeiding, want juis toe het die kerk in kwaai storms begin raak as gevolg van die Liberalisme van predikante soos Kotze en Burgers. Murray moes leiding gee en selfs in hofsake verskyn. Dit alles het hy met die grootste bekwaamheid verrig.

In 1864 word hy predikant in Kaapstad, en in 1866 bepleit hy die saak van die Sinode voor die Britse Geheime Raad in Engeland. Uit sy pen verskyn in hierdie tyd die verweerskrif “Het Moderne Ongeloof” – een van die voorlopers van ’n ononderbroke reeks boeke van godsdienstige aard wat hy tot op sy oudag gepubliseer het. Soms het hy aan agt boeke tegelyk gewerk naas al sy ander pligte.

In 1871 gaan hy na sy laaste gemeente, Wellington, waar hy tot die einde van sy bediening werk. Aan hierdie dorp is sy naam nou verbonde, veral as stigter van die Hugenote-Seminarie wat in 1874 tot stand gekom het om opleiding aan dogters te verskaf. Murray onderneem reise selfs tot in die Vrystaat om fondse in te samel, en hy gaan na Engeland en Amerika om leerkragte te vind.

In die loop van die jare het sy invloed in die kerk byna patriargaal geword en as Moderator en ampsdraer van die Sinode het hy die beleid van die kerk in groot mate bepaal. In 1898 vier hy sy vyftigjarige jubileum as leraar. Die oorlog van 1899-1902 was ’n bittere kelk vir dr. Andrew Murray, omdat hy vriende aan albei kante gehad het. Hy werk onder krygsgevangenes in Kaapstad tot sy gesondheid ingee en dan gaan hy na Switserland met sy eggenote.

Na sy terugkeer woon hy nog een Sinode by, dié van 1905, en in daardie jaar aanvaar hy ook sy emeritaat. Hy verloor sy eggenote deur die dood, en word in sy ouderdom doof. In 1908 vier hy sy diamantjubileum en wy sy laaste jare aan spesiale dienste en skryfwerk. Ook die wêreldoorlog beleef hy nog en sy seun Haldane sneuwel in Suidwes-Afrika.

Dr. Murray was ook ’n groot sendingvriend, en het seker meer as enige enkele N.G.-kerkman in Suid-Afrika gedoen vir die verkondiging van die Evangelie onder die heidene in Afrika. As tasbare bewyse van sy poginge in hierdie rigting getuig vandag nog die Sending-instituut te Wellington, wat grens aan die woning waar hy sy laaste dae geslyt het, waar die sendelinge van die N.G. Kerk opgelei word, en “Friedenheim”, ook in Wellington, waar sendingwerksters hul opleiding ontvang.

Aan sy groot woning op Wellington wag hy die einde af. In Junie 1916 preek hy vir die laaste maal op Wellington en in sy agt-en-tagtigste jaar hou hy nog spesiale dienste. Kort na die Nuwejaar van 1917 word hy tot Hoër Diens opgeroep.

“Niet ik, maar de Geest Gods die in mij woont.” (Een van dr. Murray se tekswoorde)

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Andrew Murray (Elliott-versameling, Kaapse Argief)