PH KRITZINGER (1870-1935)

VOORTREFLIKE MILITÊRE AANVOERDER

Generaal Pieter Hendrik Kritzinger verdien ’n plek in ons historiese herinnering as een van die beste militêre aanvoerders wat die geskiedenis van ons volk nog ooit voortgebring het.

Hy is gebore in 1870 in die distrik Port Elizabeth op die plaas Wildemanskraal, en het opgegroei as Boereseun. As kind was hy ’n woelwater – wakker van geaardheid, vol energie en lewenslus.

Dat hy die durf wat hy in later jare as krygsman openbaar het, toe reeds besit het, het hy bewys toe hy nouliks 12 jaar oud was. Sy ouers het toe verhuis om hulle in die Vrystaat te gaan vestig, en het hom onder die sorg van ’n peetoom agtergelaat. Met dié toedrag was hy nie tevrede nie, en aangesien daar geen ander oplossing was nie, het hy eenvoudig, ’n dag of drie nadat sy vader weg is, ’n perd gevat, die trek agterna gesit en hom weer by sy familie vervoeg.

In 1887 het hy hom as selfstandige boer op ’n plaas in die distrik Rouxvile gaan vestig en daar ’n rustige lewe gely tot met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 toe hy, as lid van die Rouxville-kommando onder komdt. Olivier se bevel, na die front is. Aan die gevegte in die Noordelike Kaapkolonie gedurende 1899-1900, en in die Vrystaat, het hy deelgeneem, en soveel aandag getrek dat hy, na die oorgawe van Prinsloo, bevorder is tot assistent-kommandant.

In hierdie hoedanigheid het hy die stryd teen die Engelse in die noordelike Vrystaat meegemaak totdat hy na die gevangeneming van komdt. Olivier in Augustus 1900, benoem is as kommandant van Rouxville.

Van nou af aan het hy direk onder bevel van genl. De Wet geval, wat soveel vertroue in hom gestel het, dat hy hom belas het met ’n inval in die Kaapkolonie ten einde die Engelse verbindingsweë te versteur en burgers vir die Republikeinse strydmagte te werf.

Die Engelse, wat ingelig was oor sy voorgenome beweging, het getrag om dit te dwarsboom, dog by Koebergweg het hy hulle verslaan en op 15 Desember Kaapland met ’n klein burgermag binnegeval. Gedurende die volgende jaar het hy vir hom onsterflike roem as krygsman verwerf. Die Britse troepe wat uitgesend is om sy opmars te stuit, het hy uitoorlê en deurgedring tot in die hart van die Kolonie.

Hier het hy vertoef tot April 1901, toe hy, om die Engelse se aandag van hom af te lei, teruggeval het na die Vrystaat, om egter ’n maand later – en nou as generaal – weer die Kolonie binne te val en ’n winteroffensief teen die Britse magte te onderneem. Met leeuemoed het hy geveg en die Engelse gedwing om groot oormagte teen hom in die veld te stoot ten einde hom terug te dryf.

Op 15 Desember 1901 het hy vir die laaste maal ’n inval in die Kaapkolonie gewaag, dog hierdie slag is hy swaar gewond en gevange geneem, en is sy aandeel in die reusestryd beëindig.

Na die vrede het hy tweemaal die see oorgesteek om fondse in te samel in belang van sy volk, en in 1930 is hy gekies as Provinsiale Raadslid vir Cradock, ’n betrekking wat hy beklee het tot sy oorlye in 1935.

Het groot magte Britse troepe besig gehou

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: PH Kritzinger (Transvaalse Argief)