ARNOLDUS PANNEVIS (1838-1884)

Arnoldus Pannevis was een van die baanbrekers van die Afrikaanse taal.

Hy is op 16 Februarie 1838 in Oudekerk, Nederland, gebore; hy het sy loopbaan in die Nederlandse vloot begin maar weens swak gesondheid het hy dit laat vaar om ’n predikant te word. Nadat hy van ’n geleentheid in Suid-Afrika gehoor het, het hy hierheen geïmmigreer en op 11 Julie 1866 in Kaapstad aangekom om die pos van onderwyser in Grieks en Latyn aan die Paarl Gimnasium te aanvaar. Ds. SJ du Toit was een van sy leerlinge. Hy was goed onderlê in Nederlands, Grieks, Latyn, Engels, Frans en Duits en het ’n redelike kennis van Italiaans, Sweeds, Deens en Spaans gehad. Hy was van die begin af beïndruk met Afrikaans, wat toe nog Kaaps-Hollands genoem is, en dit ’n “voortreflike en selfstandige” taal genoem. Hy was die eerste persoon wat die taal Afrikaans genoem het, en besef dat dit ’n volwaardige taal is, aangesien dit nie meer genoeg ooreenkomste met Nederlands getoon het om bloot as ’n dialek daarvan beskou te word nie. Hy het egter besef dat Afrikaans onderdruk was en dat daar selfs daarmee gespot is. Dit is ’n kombuistaal genoem en is al hoe meer uitgeskuif. Die Britse owerhede het alles probeer verengels en selfs Skotse predikante ingevoer sodat dit nie nodig sou wees om Afrikaans in kerke te gebruik nie.

Hy het sy vriende gemotiveer om vir Afrikaans op te staan en ’n groot invloed op onder meer CP Hoogenhout en ds. SJ du Toit gehad. Hoogenhout en Du Toit het saam met hom toegetree tot die stryd om Afrikaans amptelik as landstaal erken te kry; hulle word vandag as taalstryders erken.

Op 7 September 1872 het hy ’n brief aan die Kaapse koerant De Zuid-Afrikaan geskryf om te pleit vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Dit gelei tot die byeenkoms van agt mans in die Paarl op 14 Augustus 1875. Hierdie groep het bestaan uit CP Hoogenhout, DF du Toit (Oom Lokomotief), SJ du Toit, A Ahrbeck, SG du Toit, G Malherbe, DF du Toit en PJ Malherbe. Hulle het as die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) bekendgestaan en hul doel was om Afrikaans as taal te bevorder. Omdat Pannevis ’n gelowige mens was, het hy nie alleen die vertaling van die Bybel in Afrikaans bepleit nie, maar ook die hou van eredienste in Afrikaans en Nederlands.

Hy het aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf en ds. SJ du Toit as Bybelvertaler voorgestel. Die GRA het egter gesê dat Afrikaans nog eers as skryftaal ontwikkel moes word. Dit het egter die bal aan die rol gesit vir die eerste Afrikaanse Taalbeweging.

Op 15 Januarie 1876 verskyn die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, en in 1878 het die GRA ’n drukkersonderneming vir die uitgee van Afrikaanse publikasies gestig. Dit het gemaak dat daar al hoe meer in Afrikaans geskryf en gelees is; daarby is ’n Afrikaanse skool, bekend as die Gedenkschool der Hugenoten, gestig.

Die informele kodifisering, waardeur ’n taal of variëteit daarvan beskryf word deur die reëls, beginsels en dies meer op te skryf, het in die negentiende eeu begin toe die eerste Afrikaanse tekste geproduseer is. Dit het Die Afrikaanse Patriot ingesluit, asook vroeë godsdiensgeskrifte en ander informele geskrifte. Benewens die GRA het ander organisasies soos die Zuid-Afrikaansche Taalbond, die Afrikaanse Taalvereniging en die Afrikaanse Taalgenootskap die eerste konsepreëls geskryf. Die Suid-Afrikaners se nederlaag teen Brittanje het gelei tot die oplewing van Afrikanernasionalisme en ’n toenemende behoefte aan ’n gestandaardiseerde vorm van Afrikaans vir gebruik in onder meer die media, die onderwys en die regte.

Pannevis is op 14 Augustus 1884, presies nege jaar na die stigting van die GRA, in die ouderdom van 46 jaar oorlede. Hy is in die Paarl begrawe. Huis Pannevis, waarin koshuisleerders in graad 8 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gehuisves word, is na hom vernoem.

Daantjie Badenhorst