BERNARD PETRUS JACOBUS MARCHAND (1853-1917)
Bernard Petrus Jacobus Marchand was ’n predikant van die Nederduits-Gereformeerde Kerk en een van die stigters van die arbeidskolonie op Kakamas; ’n besproeiingskema met die doel om armblankes op te hef.
Hy is op 22 Augustus 1853 op Wellington gebore en het sy BA-eksamen aan die Suid-Afrikaanse Kollege, later die Universiteit van Kaapstad, met lof geslaag. Hy is op 15 September 1882 met Annabella Wilson Lockhart getroud. Hy het sy opleiding as predikant aan die Teologiese Kollege van die Vrye Kerk in die Skotse stad Edinburgh ontvang.
Hy was aanvanklik as hulppredikant aan die NG gemeente Mosselbaai betrokke, waarna hy tot 1891 leraar op Knysna was. Hy het die gemeente weer op gesonde voet gekry, transport van die eiendomme gekry, die gemeente se geldelike probleme aangepak en die onderwys goed bestuur. In 1888 het ’n epidemie van breinvliesontsteking uitgebreek en kort daarna is goud op Millwood ontdek. Tot die kerkraad se ontsteltenis het agt hotelle en twaalf winkels wat drank kon verkoop, verrys. Ds. Marchand het dadelik aan die werk gespring en ’n kerkgebou laat oprig. Nadat hy in 1891 demissie ontvang het, het hy na die nuutgestigte NG gemeente Rondebosch vertrek. Hier het hy die Hoër Seunskool Rondebosch en die Hoër Meisieskool Rustenburg gestig.
In 1906 het hy saakgelastigde van die Kaapse Sinode van die NG Kerk geword. In hierdie hoedanigheid was hy die organiseerder van die arbeidskolonie op Kakamas. Die doel hiervan was om armblankes op te hef en is gestig in reaksie op die swaarkry wat Suid-Afrika se mineraalrewolusie vir die blanke plattelandse bevolking meegebring het. Die meeste armblankes was Afrikaners en die oorgrote meerderheid was lidmate van die NG Kerk. Die kerk was bekommerd oor die toestroming van armblankes na die stede en die ineenstorting van die landelike leefwyse. Die kerk het geglo dat hulle hul morele waardes sou inboet, en dat dit tot die ondergang van gesinne sou lei. Daarby was die kerk bekommerd dat die armblankes houtkappers en waterdraers sou word as hulle uitgesluit sou word van die rykdom wat die nywerheidsomwenteling vir sommige mense meegebring het.
In 1894 het die Kaapse sinode erken dat ingryping namens sy verarmde lidmate ’n integrale deel van sy diens van barmhartigheid was. Ds. Marchand het dit as “interne sendingwerk” beskou. Marchand het hom deur De Volksbode, ’n koerant wat noue bande met die kerk gehad het, vir hierdie saak beywer. Met die aanbevelings van ds. Marchand se kommissie as riglyne het die kerk landboukolonies onder sy beskerming goedgekeur, en gehoop dat hierdie kolonies ontheemde en besitlose blankes ’n kans op ekonomiese, geestelike en morele rehabilitasie sou bied.
Ds. Marchand was een van vyf predikante wat gewaarsku het dat blankes ondergeskik aan Europese immigrante sou word as hulle selfs die mees elementêre opvoeding kortgekom het. Hy het geglo dat arbeidskolonies ontheemde blanke gesinne die standvastigheid sou gee waarin hulle hul kinders ’n behoorlike opvoeding kon gee sodat hulle van hul armoede en terneergedruktheid kon ontsnap. Hy het die onderwys en die Evangelie beskou as die hoekstene van die kerk om armblankes by te staan. Hy wou ook gehad het dat hulle moes leer dat dit geen skande sou wees om handearbeid te verrig nie.
Kakamas is as ligging van die arbeidskolonie gekies en ’n stuk grond van een en ’n half hektaar is aan elke gesin toegeken. Hulle is ook bygestaan met die aankoop van die nodige toerusting. Die grond sou egter in besit van die kerk bly, om hulle teen skuldeisers en die versoeking om die grond te verkoop, te beskerm. Die eerste blankes uit alle uithoeke van die Kaapkolonie het hulle in die eerste helfte van 1898 in Kakamas gaan vestig met die hoop op ’n nuwe begin. Tydens die eerste paar maande het die mans leivore gegrawe en die eerste laerskool is in Julie 1898 opgerig. Kinders is verplig om skool te gaan en alle inwoners moes Sondae eredienste bywoon. Kort voor lank was daar 800 gesinne.
Op 25 Augustus 1917 is ’n kerkgebou wat na Marchand vernoem is, ingewy; hy is op 5 Oktober 1917 in die ouderdom van 64 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst