G.R. VON WIELLIGH (1859-1932)
Gideon Retief von Wielligh was ’n Afrikaanse skrywer en ’n belangrike figuur in die oorgang tussen die Eerste en die Tweede Taalbeweging.
G.R. von Wielligh is op 1 April 1859 op die plaas Vryeguns in die Paarl-distrik gebore. Hy was die tweede van vyf seuns en is vernoem na oupa Gideon, die broer van Piet Retief. Van sy sewende jaar af het Gideon op die plaas gehelp en sy skoolonderrig hier van ’n Hollandse matroos, Jan Balt, ontvang. Toe sy pa feitlik al sy besittings deur borgstaan verloor het, het die elfjarige Gideon sy pa op ’n handelstog na die Boesmanland vergesel; hierdie ondervinding sou later neerslag vind in Jakob Platjie. By sy terugkeer het hy geldelike hulp ontvang om te gaan studeer, en hy het eindelik aan Paarl Gimnasium gematrikuleer.
Hierna het hy by ’n landmeter gaan werk en nadat hy die landmeter-eksamen op agttienjarige ouderdom afgelê het, is hy op 21-jarige ouderdom as landmeter geregistreer. In 1877 het hy die wapen van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) ontwerp; dit het die woorde “Verenigde Suid-Afrika” bevat; omring deur die name van die vier suidelike state van Afrika en die leuse “Ver Moedertaal en Vaderland”, wat ’n aanduiding van die GRA se nasionale doelwitte was, bo-aan. In 1883 het hy na Transvaal verhuis en in 1884 is hy as landmeter-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aangestel. Dit het hom in staat gestel om groot dele van die land te besoek en te deurreis.
Op 12 Mei 1885 is hy in die Paarl getroud met Elizabeth Johanna Hendrika de Villiers en drie seuns en ’n dogter is uit die huwelik gebore. Hy het ook die plaas Villieria naby Pretoria gekoop en met skape en beeste geboer. In die vroeë 1890’s het groot terugslae hom egter getref. Sy jongste seun is oorlede en ’n storm het sy huis se dak afgewaai. Daarby het tweehonderd van sy beeste aan longsiekte en talle skape aan gifblaar gevrek en sakevennote het hom in £ 17 000 se skuld gedompel. In 1895 het hy as landmeter-generaal bedank en sy eiendom asook al sy besittings verkoop om sy skuld te delg. Dit het beteken dat hy sy vriendekring verloor het en huislike probleme het gemaak dat hy van sy vrou geskei is. Dit alles het van hom ’n vereensaamde figuur gemaak. Na sy finansiële herstel het hy weer as landmeter in diens van die ZAR getree. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was hy juis besig om die grens tussen Transvaal en Mosambiek uit te meet. Hy is teruggeroep na Pretoria, maar hy het sy instrumente na die Portugese in Delagoabaai gestuur vir veilige bewaring. In Pretoria is hy aangestel as krygskommissaris, verantwoordelik vir die Britse krygsgevangenes in die kamp in Pretoria wat tot 5 000 Britte gehuisves het. Die kamp is later na Waterval-Noord, noord van Pretoria, verskuif en met die inname van Pretoria deur die Britte is hy gevange geneem en vir die res van die oorlog in Pretoria ingeperk.
Drie dae na sy gevangeneming het die Britte hom sy ou pos as landmeter-generaal aangebied maar hoewel die aanbod later herhaal is, het hy dit van die hand gewys omdat hy geweier het om vir die Britte te werk terwyl die oorlog nog aan die gang was en die Boere nog in die veld was. In hierdie tyd het vyandelike soldate sy besittings geplunder en baie van die aantekeninge wat hy deur die jare gemaak het, het verlore gegaan. Sy pligsbesef en vervelige niksdoen in Pretoria het hom gemotiveer om te probeer ontsnap en hom by die magte van genl. De la Rey aan te sluit. Dit was lewensgevaarlik, aangesien die Engelse verskeie mense wat probeer ontsnap het, doodgeskiet het of andersins as krygsgevangenes weggestuur het. Op Sondagaand 2 Maart 1901 het hy daarin geslaag om veilig deur die doringdraad en die Britse magte te kom, maar teen die volgende oggend het hy hom aan die rand van ’n konflik tussen die Britte en De la Rey se magte bevind, met die Engelse tussen hom en De la Rey. Daar was geen moontlikheid dat hy nou by die Boere kon uitkom nie en die enigste oplossing was om weer deur die doringdraad en die Britse wagposte na Pretoria te probeer terugkeer. Na die vredesluiting het hy na Lourenço Marques teruggekeer om sy instrumente te gaan haal maar tydens ’n karnaval het iemand kalk in sy oë gegooi. Dit het hom feitlik blind gelaat en hierna kon hy net met groot moeite met behulp van ’n sterk bril en ’n vergrootglas lees. Hierdie voorval het hom gedwing om sy beroep as landmeter te laat vaar en gevolglik het hy hom tot die skryfkuns gewend.
In die 1920’s is hy ingesleep by die polemiek rondom P.C. Schoonees se proefskrif, “Die prosa van die Tweede Afrikaanse beweging”. Nadat die proefskrif gepubliseer is, het C.J. Langenhoven vir Schoonees verkwalik vir die negatiewe oordeel wat Schoonees oor Von Wielligh se werk uitgespreek het, sonder om Von Wielligh se swak sig in aanmerking te neem. Verskeie ander skrywers en literatore het ook aan die polemiek rondom die proefskrif deelgeneem, onder wie ander skrywers wie se werk negatief beoordeel is. In Januarie 1923 het Von Wielligh op beleefde wyse in Die Huisgenoot beswaar gemaak teen die manier waarop sy werk bespotlik gemaak is.
In die letterkunde het hy ’n belangrike plek ingeneem deurdat hy die tydperk tussen die twee taalbewegings oorspan het met sy sketse wat tydens die eerste beweging verskyn het en sy romans en ander werk in die tweede beweging. Die aard van sy skryfwerk het egter meer gemeen gehad met die styl van die Patriot-skrywers wat lesers al geselsende wou vermaak, stig en onderrig. Hy was reeds op sestienjarige ouderdom lid van die GRA en vanaf 1876 het hy meegewerk aan Die Patriot. Hy het hierdie verbintenis egter in 1891 opgeskort in protes teen die politieke rigting wat die blad onder leiding van S.J. du Toit ingeslaan het. Later het hy bydraes vir Ons Klyntji (van 1896 tot 1906) en Ons Taal (van 1907 tot 1909) gelewer. Hy het sy dertig Dierestories, wat in Ons Klyntji verskyn het, later ook in verskeie bundels versamel.
“Jakob Platjie” is aanvanklik gedeeltelik in Ons Klyntji gepubliseer en nadat dit van 1912 tot 1914 in Die Brandwag verskyn het, is dit later in boekvorm uitgegee. Dit is karaktersketse uit die volkslewe van die Khoi-Khoi, Korannas en San. Aan die begin van die verhaal is Jakob Platjie ’n kind, en die verhaal eindig met sy dood. Dit is egter nie ’n lewensverhaal nie, maar eerder anekdoties van aard, met ’n lewensopsomming van Jakob Platjie aan die einde van die boek. Hy het die materiaal vir die sprokies en vertellings in Dierestories en Boesmanstories in sy tyd as landmeter versamel.
Op gevorderde leeftyd het hy sy herinneringe aan die GRA en die stryd vir Afrikaans in Eerste skrywers gedokumenteer. Hy het die ontstaan en werk van die GRA geskets en die opvattings van die genootskap teenoor verskillende aanklagte van die Tweede Taalbeweging verdedig. Hy het hom ook uitgelaat teen die taalrigtings van die tweede beweging. Sy uitsprake het getuig van ’n uitgebreide kennis van die volkstaal hoewel sy wetenskaplike insig in taalverskynsels gebrekkig was. In die tweede druk het hy belangrike verbeterings aangebring. Die stof is beter gerangskik en die inhoud is verryk met ’n groot aantal dokumente wat betrekking gehad het op die Patriot-beweging terwyl die briewe van die Genootskappers ’n interessante perspektief op hul werk, strewe en letterkundige insigte gegee het. Daar is egter weinig van waarde toegevoeg en dit was waarskynlik dat Von Wielligh hierdie boek geskryf het eerder as om die GRA en die Patriot-skrywers te verdedig teen die kritiek waaraan hulle in hierdie nuwe tydperk onderhewig was. Ons geselstaal was ’n oorsig van die gewestelike spraak soos Afrikaans gepraat word; dit was ’n verwerking van ’n reeks artikels wat in 1921 en 1922 in Die Huisgenoot verskyn het. Die artikels was gebaseer op die aantekeninge wat hy gemaak het tydens sy omswerwinge as landmeter deur die lengte en breedte van die land.
Hy is in 1922 verkies tot erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Letterkunde en Kuns. Hy het sy laaste jare op die plaas van sy jongste broer Marthinus in die distrik van Hendrina deurgebring en is op 9 Augustus 1932 in die ouderdom van 73 jaar oorlede.
Daantjie Badenhorst
