CHRISTIAAN HENDRIK MULLER (1865-1945)
BEKWAME BOERE-GENERAAL
Die Tweede Vryheidsoorlog het ons volksgeskiedenis met verskeie helde verryk. Christiaan Muller, in 1865 in die Kaapkolonie gebore, was een van hulle. Hy het as kind van 9 jaar saam met sy ouers die Kaapkolonie verlaat, en agtereenvolgens te Ficksburg, Bethlehem en Standerton gewoon.
Na die ontdekking van die Witwatersrandse goudvelde het hy hom egter gaan vestig op Elsburg, waar hy daagliks aanskouer was van die uitlanderagitasie teen die Suid-Afrikaanse Republiek. Aan die veldtog teen Jameson in 1896 het hy deelgeneem, en twee jaar later ook die M’Pefu-ekspedisie in Soutpansberg meegemaak sodat hy, met die uitbreek van die oorlog in 1899, reeds ’n mate van krygsmanservaring agter die rug had.
Op die Natalse front, waarheen hy met die mobilisasie van die Republieke in September 1899 gestuur is, het hy spoedig deur sy wakkere optrede die aandag op hom gevestig. Reeds voor die uitbreek van vyandelikhede is hy verkies tot korporaal van die Boksburg-kommando, dog sy optrede gedurende die eerste groot veldslae het getoon dat hy met meer mag en verantwoordelikheid beklee behoort te word.
Nadat hy tweemaal – te Spioenkop en te Pietershoogte – as waarnemende veldkornet opgetree en getoon het dat hy daartoe ten volle bevoegd was, is hy, in Mei 1900, tot veldkornet verkies. In hierdie hoedanigheid het hy met welslae deelgeneem aan die slae te Babsfontein, Donkerhoek, Oliphantsfontein en Dalmanutha, met die gevolg dat hy op 10 Oktober 1900 tot kommandant gekies is.
As sodanig het hy diens gedoen in die groot geveg te Renosterkop en op 30 Desember die onderskeiding behaal om aangestel te word as veggeneraal oor die Boksburg- Johannesburg- en Polisiekommando’s. Agt dae later – op 7 Januarie 1901 – het hy in samewerking met genl. Ben Viljoen die Engelse lidietkanon “Lady Roberts” te Helvetia gebuit, en kort daarna ook ’n prominente aandeel geneem aan die gevegte te Monumentheuwel by Belfast.
In April 1901, toe sy kommando deur die Engelse ingesluit is, is hy gewond, dog hy het daarin geslaag om met al sy burgers te ontsnap en die Engelse veral in die Bosveld opnuut te teister.
Na die gevangeneming van genl. Ben Viljoen is hy benoem as assistent-kommandant-generaal van die noordoostelike distrikte. Met groot volharding en durf het hy die stryd teen die Britse magte voortgesit en daarin geslaag om tot die einde van die stryd in die veld te bly. Aan die vredesonderhandelinge te Vereeniging het hy deelgeneem, en na die afsluiting daarvan hom volkome uit die openbare lewe teruggetrek.
In Desember 1904 is hy getroud met mej. H. van der Hoven van Elsburg.
Met die verkryging van verantwoordelike bestuur deur Transvaal in 1906 en die daaropvolgende stigting van die Landbank, het genl. Botha hom as een van die direkteure van dié inrigting benoem, ’n betrekking waarin hy, met die totstandkoming van die Unie in 1910, herbenoem is. Hy het toe ook voorsitter geword van die Transvaalse Landraad.
Geleidelik het hy hom weer met openbare aangeleenthede begin bemoei; in 1914 het hy deelgeneem aan die rebellie, en in 1920 Parlementslid geword. Na 1926 het hy weer direkteur van die Landbank geword en dit gebly tot 1941. Op 14 Januarie 1945 is hy oorlede te Parkview, Johannesburg.
Sy betekenis vir ons geskiedenis Iê in die eerste plaas in die lang ry wapenfeite wat hy gedurende die Tweede Vryheidsoorlog volbring het en waardeur hy die roem van die Afrikanervolk verhoog het.
Buitmaker van die “Lady Roberts”
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Kaapse Argief