
COLENSO-SENDINGPOS, BISHOPSTOWE
Ongeveer nege km oos van Pietermaritzburg is die kleinhoewe Bishopstowe geleë. Dit was oorspronklik die sendingpos van die so omstrede dr. John Williams Colenso, eerste biskop van Natal. By die Zoeloe was dit as Ekukanyeni of Plek van Verligting bekend.
Dr. Colenso het in 1853 ’n besoek van tien weke aan Natal gebring. Daarna keer hy na Engeland terug om hom egter in 1855 permanent in Natal te kom vestig. Hy word deur die Anglikaanse Kerk as die eerste biskop van Natal aangestel en neem sy verblyf op Bishopstowe, die plek waarop hy reeds tydens sy eerste besoek besluit het om ’n sendingpos aan te lê. Die grond is op 24 Julie 1855 aan hom toegeken en hy het daarop ’n sendinghuis en ’n -kerk gebou.
Colenso het tot aan die einde van sy lewe in 1883 hier gewoon. Van hier het hy sy kragtige sendingaksie geloods en van hier het hy ook bittere stryd teen sy eie kerk oor sy bewerings t.o.v. die egtheid van sekere dele van die Ou Testament, gevoer.
In 1884 is Colenso se huis deur brand verwoes, maar sy twee dogters het dit laat herbou. In 1903 is die gronde deur die Natalse regering onteien en in plase opgedeel.
(Bronsplaat 1949)

Foto: Die Colenso-sendingpos • The Graphics, 1879 • Africana-museum, Johannesburg
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 247.
