CORNELIS BROEKSEMA (1863-1901)

Cornelis Broeksema was ’n prokureur van Nederlandse herkoms wat die hoogste prys betaal het nadat hy die wandade in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog aan die kaak gestel het.

Hy is op 13 Augustus 1863 in Assen in Nederland gebore en was een van elf kinders. Hy is in 1891 met Jacomina Francina Vilonel getroud en vier kinders is uit die huwelik gebore.

Hy was ’n publieke aanklaer en lid van die Johannesburgse kerklike kommissie in verband met noodleniging in die Turffonteinse konsentrasiekamp. In Februarie 1882 het hy hom in Bloemfontein gevestig en as klerk by die praktyk van CJ Vels en adv. AEJ Krause gewerk. In 1886 het hy die Vrystaatse wetsagenteksamen geslaag; hy het daarna as vrederegter, afslaer en taksateur opgetree. Hy het ook met die latere hoofkommandant CR (Christiaan) de Wet en sy gesin in aanraking gekom. Nadat hy reeds in 1884 sonder sukses probeer het om tot die staatsdiens van die ZAR toe te tree, het hy hom in 1893 in Pretoria gevestig en in 1895 het hy ’n genaturaliseerde ZAR-burger geword. Die volgende jaar het hy die Transvaalse wetsagentseksamen met lof geslaag en in 1897 het sy benoeming as derde publieke aanklaer in Johannesburg onder die latere regter FET Krause gevolg. Hy is van kommandodiens vrygestel tydens die Anglo-Boereoorlog; dit was dalk weens liggaamsgebrek of koors. Na die Britse besetting van Johannesburg het hy die eed van neutraliteit afgelê en as lid van die kerklike kommissie onder leiding van ds. PGJ Meiring het hy gehelp om die lot van die ingesetenes van die Turffontein-konsentrasiekamp te verlig. Hy het tewens daarvoor gesorg dat genl. Christiaan de Wet se vrou en kinders, wat intussen deur die Britse militêre owerhede na Johannesburg oorgebring is, in ’n woonhuis kon intrek en van die kamplewe vrygestel is voordat hulle later na die konsentrasiekamp in Pietermaritzburg gestuur is. Hy het as voog vir die kinders opgetree en seker gemaak dat hulle onderwys sou ontvang.

In 1901 het Broeksema, wat diep bewus was van die heersende kamptoestande, met dr. FET Krause, wat intussen as ongewenste persoon deur die Britse besettingsowerheid op parool na Engeland gestuur is, in verbinding getree. Verder het hy, deur van die diplomatieke immuniteit van die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg gebruik te maak, dr. WJ Leyds, die gesant van die ZAR in Europa, onder die skuilnaam Chas Brooks oor die algemene- en kamptoestande in Johannesburg ingelig. ’n Brief waarvan die ontvangs deur die Amerikaanse konsul in Rotterdam geweier is, is vermoedelik op ’n wenk van die Britse Ministerie van Oorlog deur die Britse owerheid in Suid-Afrika onderskep. Die inhoud van die brief het óf bekend geword, óf Broeksema was geruime tyd reeds onder verdenking. Op 24 Augustus 1901 het die plaaslike Kommissaris van Polisie hom by sy woning in Braamfontein, Johannesburg in hegtenis geneem. Terselfdertyd is daar op ’n aantal dokumente, waaronder ’n klandestiene vlugskrif getiteld “Aan de getrouwe Afrikaners”, opgestel deur Broeksema en gedruk deur ene J van Ry, beslag gelê. In hierdie geskrif het hy lesers aangespoor om die eed van neutraliteit te verbreek en weer daadwerklik aan die oorlog deel te neem. Hy is op 12 September 1901 deur ’n spesiale militêre hof verhoor en het skuld op alle aanklagte teen hom erken. Sy vrou het ’n versoek om begenadiging aan Lord Kitchener gerig, maar dit is van die hand gewys omdat die saak nog hangende was. Hy is in die Johannesburgse fort aangehou en op 29 September is hy meegedeel dat hy aan eedverbreking, hoogverraad en opsweping skuldig bevind is en ter dood veroordeel is. Hy was ’n oortuigde voorstander van die Boere se saak en het nie gehuiwer om sy oortuigings in woord en daad bekend te maak nie.

Hy was 38 jaar oud toe hy op 30 September 1901 in die fort voor ’n vuurpeloton tereggestel is en is in die hoofbegraafplaas in Braamfontein, Johannesburg, ter ruste gelê.

Daantjie Badenhorst