CORNELIS VAN QUALBERG (VAN QUALBERGEN) – KOMMANDEUR VAN 1666-1668
Cornelis van Qualberg is in 1623 in Amsterdam gebore. Reeds op 16 het hy vir die VOC in Masulipatam in Suidoos-Indië begin werk. Hy is getroud met Maria de With, dogter van sy direkte bevelvoerder. In Augustus 1652 het hy kommandeur van Masulipatam geword.
Tydens die termyn van Jan van Riebeeck het hy in 1658 die Kaap besoek as admiraal van ’n VOC-retoervloot. In 1666 is hy deur die VOC aangestel om oor te neem as derde kommandeur aan die Kaap na die verstryking van Zacharias Wagenaar se termyn.
Van Qualberg se seereis na die Kaap, aan boord van die Dortrecht, was rampspoedig. Toe hy op 25 Augustus 1666, na ’n seereis van nege maande, in die Kaap kom, het 112 van die oorspronklike bemanning van 298 reeds ter see gesterf. Hy self was een van slegs 10 bemanningslede wat nog gesond was. Aan die Kaap was daar heelwat struweling tussen Van Quaelberg en sy voorganger voor Wagenaar se vertrek na Batavia.
Van Quaelberg se termyn word gekenmerk deur ’n fatale fout wat hy gemaak het wat hom in groot onguns gebring het. Onbewus daarvan dat die Franse vyandig was (dit het destyds baie lank geduur om van ’n oorlog kennis te neem), het hy die Franse admiraal en onderkoning, De Montdeverque, en sy vloot in die Kaap onthaal en hulle toegelaat om hul erg beskadigde vloot na gevegte teen die Engelse te herstel met voorraad uit die Kompanjie se store. Dit het voorgekom asof Van Quaelberg die Franse skepe beter behandel het as dié van die VOC. Boonop was die Franse Oos-Indiese Kompanjie besig om belangrike kompetisie te word.
Binne twee jaar na die aanvang van sy termyn het die VOC dus in 1668 besluit om Cornelis van Quaelberg uit die VOC se diens te ontslaan. Dit was eers toe sy opvolger, Jacob Borghorst, met die VOC-brief in die Kaap opdaag dat hy bewus geword het van sy afdanking.
In die Kaap is sy afdanking verwelkom. Die vryburgers het verdrukking onder hom ervaar en hy was ongewild by die plaaslike bevolking wat hom as ’n tiran ervaar het.
Ironies het hy in 1673, nadat hy in 1669 weer deur die VOC in diens geneem is, as admiraal van ’n vloot groot roem verwerf in gevegte teen Franse en Engelse vlote tydens die Derde Anglo-Nederlandse oorlog. Hy is beloon met die pos van goewerneur-generaal van Malakka, ’n pos wat Jan van Riebeeck ook beklee het en in 1684 is hy bevorder tot buitengewone kommissaris van Indië.
Cornelis van Quaelberg is op 3 Februarie 1687 in Batavia oorlede. Desnieteenstaande sy ongewildheid in die Kaap was Van Quaelberg uiters bekwaam. Deur sy toedoen is die eerste pogings tot bosbewaring in Suid-Afrika aangewend toe hy ’n verbod geplaas het op ongemagtigde houtkappery en hy het verhoudings met ander bevolkingsgroepe bestuur.
Elizma Smith
