DANIËL VAN DEN HENGHEL – WAARNEMENDE GOEWERNEUR 1737-1739
Daniël van den Henghel was die waarnemende goewerneur aan die Kaap na die skielike afsterwe van goewerneur Adriaan van Kervel.
Van den Henghel het in Maart 1731 vanaf Ceylon in die Kaap as VOC-amptenaar aangekom. Op goewerneur Van Kervel se sterfdag, 19 September 1737, het die Politieke Raad, wat uit ses lede bestaan het, vergader om ’n waarnemende bevelvoerder vir die Kaap aan te wys. Dit was die gebruik dat die goewerneur se sekundes, in hierdie geval Hendrik Swellengrebel, die leisels oorneem sou die goewerneur in die tuig te sterwe kom. Tydens hierdie vergadering maak Daniël van den Henghel, die fiskaal, egter ook aanspraak op die posisie van waarnemende goewerneur op grond daarvan dat hy reeds langer as Swellengrebel ’n senior koopman was en reeds van 1731 in die Kaap was, terwyl Swellengrebel nog slegs vir 90 dae die sekundes is.
Daar word oorgegaan tot stemming en die uitslag is gelykop. Een van die stemme ten gunste van Swellengrebel was dié van die sekretaris Ryk Tulbagh. Die fiskaal maak beswaar teen sy stem aangesien Tulbagh met Swellengrebel se suster getroud was en sy stem dus nie as ’n objektiewe stem geag kon word nie, maar die sekretaris verwerp hierdie beswaar op grond daarvan dat in die nege jaar wat hy lid van dit Politieke Raad was, dit nog nooit gronde vir sodanige dispuut was nie. Die Raad besluit om die lot te werp en die uitslag is ten gunste van Van den Henghel.
Van den Henghel se termyn as waarnemende goewerneur neem ’n aanvang op 19 September 1737. Die Here VXII verneem van hierdie besluit, maar keur dit af en stuur instruksie na die Kaap dat Van den Henghel weer in die amp van fiskaal, Swellengrebel as goewerneur en Tulbagh as sekretaris aangestel word. Hierdie instruksie het op 14 April 1739 in werking getree.
Daniël van den Henghel is in Utrecht gebore en daar op 15 Augustus 1699 gedoop. Hy was getroud met Alida de Leeuw. Tydens sy termyn as waarnemende goewerneur is die eerste sendingstasie by Genadendal gestig. Dit was ook in sy tyd toe die Fransgebore Estiénne Barbier met opstand teen die regering begin het.
Daniël van den Henghel was fiskaal in die Kaap tot 18 September 1741 waarna hy in 1742 na Nederland teruggekeer het.
Elizma Smith
