DENEYS REITZ (1882-1944)

Deneys Reitz was ’n Suid-Afrikaanse soldaat, politikus, kabinetsminister en skrywer.

Hy is op 2 April 1882 in Bloemfontein gebore en was die derde oudste van die vyf seuns van president FW Reitz van die Oranje Vrystaat na wie die dorp Reitz vernoem is. Sy ma was Blank Thesen van die Noorse familie van die Vrystaat, en pres. Reitz se eerste eggenoot. Sy voornaam was afkomstig van sy ouma aan vaderskant, Cornelia Magdalena Deneys.

Hy het sy skoolopleiding aan Grey Kollege in Bloemfontein ontvang en op sewentienjarige ouderdom by die Boeremagte in die Anglo-Boereoorlog aangesluit. Hy het krygsdiens op Ladysmith verrig en genl. Jan Smuts op sy beroemde inval in die Kaapkolonie in 1901 en 1902 vergesel. Na die Vrede van Vereeniging het hy geweier om die eed van getrouheid af te lê en na Madagaskar vertrek. Hier het hy drie moeilike jare beleef en malaria opgedoen, maar na Suid-Afrika teruggekeer op versoek van Smuts se vrou Issie. Die siekte het hom so erg geknou dat hy met sy terugkeer na Suid-Afrika ineengestort het, maar mev. Smuts het hom oor die volgende drie jaar verpleeg totdat hy sy kragte herwin het. Nadat hy sy studie in die regte voltooi het, het hy van 1908 af op Heilbron as prokureur gepraktiseer. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy Smuts gehelp om die rebellie te onderdruk en daarna by die staf van genl. Smuts in Duits-Wes-Afrika gedien. In Duits-Oos-Afrika was hy die bevelvoerder van die berede regiment Fourth South African Horse. In 1917 het hy oorsee gegaan en is twee keer aan die wesfront swaar gewond; die laaste keer vroeg in 1918. Hy is eervol vermeld en was later kolonel in bevel van ’n bataljon van First Royal Scots Fusilliers.

Na die oorlog het hy tot die politiek toegetree as ondersteuner van genl. Smuts en in 1920 is hy tot parlementslid vir die kiesafdeling Bloemfontein-Suid verkies. Sy opponent was Colin Steyn, die seun van president MT Steyn van die Oranje Vrystaat. Hy het Steyn, die kandidaat van die Nasionale Party, met 101 stemme verslaan. Dit was die Smuts-regering se enigste Vrystaatse setel omdat die provinsie bankvas agter genl. JBM Hertzog gestaan het. Op 3 Augustus 1920 het Reitz en Steyn in dieselfde kiesafdeling in ’n tussenverkiesing te staan gekom. Niemand het regtig geweet hoekom nie, maar dit was moontlik omdat Steyn die uitslag suksesvol betwis het. Hierdie keer het Reitz met ’n meerderheid van 141 stemme gewen.

In 1921 het nog ’n algemene verkiesing plaasgevind, want Smuts wou sy posisie in die Vrystaat versterk nadat die Unionisteparty by sy Suid-Afrikaanse Party (SAP) ingelyf is. Weer eens het Steyn en Reitz in Bloemfontein-Suid teen mekaar te staan gekom, en hierdie keer was Steyn aan die wenkant, met 1189 stemme teenoor Reitz se 1142. Hoewel Steyn in Bloemfontein-Suid en Vredefort gestaan het en albei kiesafdelings gewen het, het hy besluit om Bloemfontein-Suid te verteenwoordig. Hy wou waarskynlik keer dat die SAP ’n tussenverkiesing in Bloemfontein wen en sodoende weer ’n houvas op die Vrystaat kry. In die algemene verkiesing het die NP sestien uit die sewentien setels gewen, met die uitsondering van Bloemfontein-Noord waar die Arbeidersparty se Arthur Barlow met 316 stemme teen die NP se JWG Steyn gewen het.

Die destydse gebruik was dat ’n lid van ’n veilige setel teruggetree het sodat ’n dienende minister weer sy plek in die Volksraad kon inneem. In hierdie geval was dit EH Walton, wat die kiesafdeling van Port Elizabeth-Sentraal in die 1921-verkiesing maklik gewen het. Tydens die tussenverkiesing op 15 Maart 1921 het Reitz onbestrede in dié kiesafdeling verkies. Tydens die vervroegde algemene verkiesing in 1924 het Reitz dit nie gewaag om in sy geboortestad te staan nie; Colin Steyn van die NP het buitendien oortuigend gewen, met meer as twee derdes van die stemme. Reitz het egter sy setel in Port Elizabeth-Sentraal met ’n volstrekte meerderheid behou.

Dit was egter die verkiesing waarin die Smuts-regering tot ’n val gekom het en Hertzog die nuwe eerste minister geword het. Hoewel dit die einde van Reitz se tydperk as minister beteken het, het hy steeds tot in 1929 as parlementslid in Port Elizabeth aangebly. In dieselfde jaar het hy die kiesafdeling Barberton teruggewen vir die SAP nadat WH Rood dit vyf jaar tevore vir die NP verower het. Nadat die NP en die SAP in 1933 ’n koalisie gesluit het, is Reitz onbestrede tot parlementslid vir Barberton verkies. In 1938 het hy die setel behou toe hy WCJ Brink van die NP met ’n meerderheid van 1381 stemme verslaan het.

Die koalisie tussen die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party in 1933 het daartoe gelei dat die Verenigde Party (VP) op 5 Desember 1934 gestig is. Hy het aanvanklik die amp as minister van lande en besproeiing aanvaar, en in 1935 is hy verkies tot minister van landbou en bosbou. In 1938 het hy minister van mynwese geword. In 1939 het die VP geskeur en Hertzog het as eerste minister bedank. Smuts het ’n tweede termyn as eerste minister gedien en Reitz as minister van naturellesake aangestel. In 1942 en 1943 het hy as die Unie van Suid-Afrika se hoë kommissaris in Londen gedien. In Suid-Afrika is hy as ’n ondernemende kabinetsminister beskou en in Brittanje as ’n voortreflike verteenwoordiger van die Unie van Suid-Afrika. As minister van lande het hy die voortou in ’n aantal belangrike ondernemings geneem, onder meer die wetgewing ingevolge waarvan die Nasionale Krugerwildtuin tot stand gekom het.

Hy is tot lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies toe hy ’n minister in die Smuts-kabinet was. Omdat lidmaatskap destyds tot vyftig lede beperk is, was dit ’n groot eer om as lid verkies te word. Reitz het sy lidmaatskap egter van die hand gewys; hy het die akademie beskou as ’n rassistiese organisasie omdat hy hom net vir die bevordering van Afrikaans beywer het en in die pad van goeie betrekkinge tussen Afrikaanse en Engelse mense gestaan het. Reitz het homself as ’n kosmopoliet beskou; in die parlement het hy net Engels gepraat en op die plaas het hy Afrikaans met sy arbeiders gepraat.

Reitz was getroud met Leila Agnes Bussiné Wright wat van Wynberg in Kaapstad afkomstig was. Sy was ’n uitgesproke voorstander van vroueregte en stemreg vir vroue. Sy was die eerste vrou wat lid van die Unie-Volksraad geword het en het Parktown in Johannesburg van 1933 tot 1944 verteenwoordig, eers as kandidaat van die SAP en later die VP. Sy was aktief op die gebied van maatskaplike welsyn en sy het ’n groot aandeel in die aanvaarding van die Kinderwet van 1937 gehad.

Hy het ook as skrywer bekendheid verwerf en drie outobiografiese werke gepubliseer. Commando: a journal of the Boer War, is in 1929 vir die eerste keer in Londen gepubliseer, en in 1933 het hy dit opgevolg met Trekking, waarin hy geskryf het oor die invloed wat die Anglo-Boereoorlog tydens die Eerste Wêreldoorlog op hom gehad het. In No Outspan in 1943 het hy geskryf oor sy lewe tussen die twee wêreldoorloë. In 1994 het die uitgewer Wolfe Publishing dit onder die titel The trilogy of Deneys Reitz uitgegee.

Reitz is op 19 Oktober 1944 in Londen oorlede; sy grootste nalatenskap was die prokureursfirma Deneys Reitz Inc., wat in 2011 met ’n internasionale firma saamgesmelt het.

deur Daantjie Badenhorst