DICK KING SE HUIS, ISIPINGO

Ongeveer vyf km uit Durban aan die Suidkuspad is Isipingo, tans ’n Indiërbuurt, geleë. Hier aan die regterkant van die pad is die eenvoudige huis van Richard (Dick) Philip King, waarin hy van 1850 tot sy dood in 1871 gewoon het.

Dick King is in 1813 in Chatham gebore en het in 1820 saam met sy ouers na Suid-Afrika gekom. In 1828 het hy hom in Port Natal gevestig. Hy het Dingane, die Zoeloehoof, baie goed geken en is in 1837 deur hom gedwing om aan ’n veldtog teen die Swazi’s deel te neem. King het egter veral bekendheid verwerf vir sy epiese rit van 960 km te perd van Port Natal na Grahamstad in tien dae om vir die beleërde Britse mag onder kapt. Smith in Port Natal hulp te verkry.

Na die anneksasie van Natal het hy soms in Durban en soms op Isipingo gewoon. In 1848 is ’n plaas van 2 428 hektaar op Isipingo, “op grond van langdurige bewoning”, aan hom toegeken. Hier het hy begin met die kweek van suiker en het later selfs sy eie klein suikermeul gehad.

(Bronsplaat 1949) (Geen toegang)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 235.