
DIE “BOOM VAN SAMESWERING”, ONZE RUST, BLOEMFONTEIN
Onze Rust, die plaas van Marthinus Theunis Steyn, die laaste president van die Oranje-Vrystaat, lê vlak onder ’n rantjie dig begroei met karee- en olienhoutbome.
Die pad daarheen draai 22 kilometer van Bloemfontein regs uit die nasionale pad na die suide, en loop dan deur die Kaalspruitvallei na die plaas.
President Steyn het hierdie plaas in 1897 gekoop. Gedurende sy ampstyd en die Tweede Vryheidsoorlog het hy nie daar gewoon nie, maar na sy terugkeer uit Europa in 1905 het hy hom hier kom vestig. Onze Rust het die hoofkwartier geword vanwaar hy tot 1916 as leier en raadgewer van die Afrikaner opgetree het. Op hierdie plaas was die “Boom van Sameswering” een van die president se geliefkoosde plekke waar hy dikwels rus en vrede gesoek het.
Hierdie boom staan ongeveer vierhonderd meter reg wes van die huis, anderkant ’n granaatheining in die veld. Dr. N.J. van der Merwe beskryf dit as volg: “Dit is ’n sterk, lommerryke, simmetries gevormde oliewenhoutboom … Meer as een gewigtige beraadslaging het aan die voet van hierdie boom plaasgevind. As daar vriende kom om die President oor belangrike sake te raadpleeg, dan neem hy hulle dikwels na die bank onder die oliewenhoutboom—van daar die benaming Boom van Sameswering. Die bewering is dikwels gemaak dat niemand tot die vertroude kring van vriende kon toetree sonder ’n sitting onder daardie boom nie. Daar kom hy onder kruisverhoor. Daar word sy siel ontbloot onder die krag van ’n sterk persoonlikheid. Manne soos J.B.M. Hertzog, Christiaan de Wet en Abraham Fischer het dikwels hier onder die Boom kom raad vra en gekry.”
(Geproklameer 1950)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 214.