
DIE EERSTE RAADSAAL
Die Eerste Raadsaal is uit geskiedkundige oogpunt sonder twyfel die belangrikste gebou in die Oranje-Vrystaat. Dit is geleë in die skilderagtige, historiese “ou” Bloemfontein in St. Georgesstraat 95, reg voor die Presidensie. Dit is inderdaad ’n pioniersgebou met sy lang wit mure, grasdak en twee sygewels, wat nou ongelukkig deur die aanbousels verberg en ontsier word. Hierdie saal is die bakermat van die Vrystaatse administrasie, Kerk en onderwys.
In November 1848 het Warden ’n aantal erwe verkoop, wat die totale som van R1 800 opgelewer het, en op sy versoek het die goewerneur hom toegelaat om die helfte daarvan vir die bou van ’n kerk en skool te gebruik. In Mei 1849 skryf The Cape of Good Hope Observer: “The Government School-house is finished, and a fine large building it is – nothing very handsome, but good strong plain work. It will be used as a church until a suitable structure is finished.” Die bekende dr. Andrew Murray het dan ook die dienste hier waargeneem tot 29 Mei 1852 toe die Ned. Geref. Kerk op dieselfde terrein, waarop die Tweetoringkerk tans staan, voltooi is. Sy bevestiging op 6 Mei 1849 het in hierdie saal plaasgevind.
Maar die gebou het nie slegs as kerk en skool gedien nie. Dit was ook die raadsaal. Die Wetgewende Raad van die Oranjerivier-Soewereiniteit het van 1849 tot 1852 hier sitting gehou terwyl ook die Raad van Kommissarisse vir Dorpsbeheer hier byeengekom het.
Tydens die stormagtige onderhandelinge wat die opheffing van die Britse soewereiniteit voorafgegaan het, was hierdie saal die sentrum van die politieke bedrywighede. Na die opheffing van die Soewereiniteit en die daaropvolgende stigting van die Republiek van die Oranje-Vrystaat in 1854 het die saal gelyktydig as raadsaal, regeringskantore en skool gedien. So het die Volksraad en die Uitvoerende Raad gedurende die jare 1854 en 1855 hul sittings hier gehou. Die eerste twee Vrystaatse presidente, Josias Hoffman en Jacobus Boshof, is in 1854 en 1855 onderskeidelik in dié nederige ou gebou in hul hoë ampte bevestig. In 1856 het die Volksraad en Uitvoerende Raad na die Tweede Raadsaal verhuis in ’n gebou aan die Markplein, waar tans die poskantoor staan. Die eerste Raadsaal is egter nog steeds as skool gebruik.
In 1877, toe daar genoeg voorsiening vir skool- en kerkgeboue gemaak is, het die Volksraad die ou Raadsaal tot beskikking van ’n openbare komitee gestel om dit as museum in te rig. Die twee vleuels is in 1885 en 1891 bygevoeg.
(Geproklameer 1936)
Foto: Die Eerste Raadsaal
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 206-207.