
DIE FONTEIN, BLOEMFONTEIN
Die plek van die bekende fontein, waaraan die stad Bloemfontein sy naam ontleen, is vandag slegs kenbaar aan ’n betonsuil en die wapen van die stad in mosaïek. Albei is opgerig in die diep uitgeholde Bloemspruit bo langs Selbornestraat net onderkant die Stadium.
Hierdie fontein wat eens meer as 450 000 liter per dag gelewer het, het sy ontstaan te danke aan sekere fisiese en geografiese kenmerke van die omgewing. Dit is geleë aan die onderkant van ’n kom wat aan die noorde en noordweste deur heuwels ingesluit is. Na gelang hierdie kom suidwaarts en weswaarts van die heuwels strek, word dit soos ’n tregter al smaller totdat dit uiteindelik uitloop in ’n nou nekkie in ’n lae ysterklipruggie wat skuins oor die vallei loop. Hierdie ysterklipruggie vorm ’n soort damwal vir die water van die opvanggebied van die heuwels en die vlei net bokant die ruggie, en hier het die water dan as ’n groot fontein uitgeborrel.
Voor die koms van die witman moes hierdie fontein ’n gewilde drinkplek vir Boesmans en wilde diere gewees het. Hulle rus is verstoor toe die eerste blanke veeboer Rudolph Marthinus Brits, bygenaamd “De Oude”, hom hier by die fontein omstreeks 1822 gevestig het. Kort hierna het “De Oude” se neef, Johan Nicolaas Brits, met sy familie ook hier kom woon. “De Oude” het weldra die fontein verlaat en sy neef het in besit daarvan gebly. Dit was dan ook waarskynlik Johan Nicolaas wat, na aanleiding van die baie klawer in die vlei bokant die fontein, die naam Bloemfontein daaraan gegee het.
Soos reeds vermeld, het kapt. Henry Douglas Warden in 1846 Bloemfontein as gevolg van sy sentrale ligging en hierdie standhoudende fontein tot hoofsetel gekies. En in die volgende dertig jaar sou Bloemfontein dan ook vir sy watervoorsiening uitsluitend van hierdie fontein afhanklik wees.
Brits het reeds ’n watersloot gemaak van die fontein na sy woninge iewers in die omgewing van die huidige Presidensie. Warden het aan weerskante van hierdie sloot tuine aangelê en dit verleng sodat die garnisoen, wat in die omgewing van die huidige Queen’s Fort gestasioneer was, van vars water voorsien kon word. Na die proklamering van die Oranjerivier-Soewereiniteit in 1848 was dit dan ook die terrein langs die watersloot wat allereers in sogenaamde “water erven” opgemeet is.
Die groeiende bevolking en die groot troppe vee van die boere het steeds groter eise aan die fontein gestel. In 1862 kla die stadsvaders reeds by die Volksraad oor die tekort aan water vir die hoofstad. Om besoedeling van die water te voorkom, is ’n klipmuur om die fontein opgerig en om water op te gaar, is ’n groot dam gebou op die terrein waar die polisiekantore in Parkweg vandag staan.
Die groot troppe vee wat in die opvanggebied van die fontein gewei het, het die plantegroei vertrap. Die water kon toe nie meer wegsink in die grond nie en met die groot vloed van 1875 het nie slegs dwarsslote in die vlei gespoel nie, maar ook die nou nekkie waar die fontein geleë was, het wyer oopgespoel. As gevolg hiervan het die watervoorraad van die fontein tot 230 000 liter gedaal terwyl die groeiende bevolking en veral die opening van die spoorweg na Bloemfontein in 1890 al hoër eise gestel het. Pogings om water te bespaar deur die aanlê van ysterpype en die vergroting van die dam het die toestand nie verlig nie. In 1898 is besluit om nuwe waterwerke by Sannaspos aan te lê en hierdie skema is kort voor die Anglo-Boere-oorlog voltooi.
In 1904 het die tweede vloed gevolg. Die gebou sowel as die grond rondom die fontein is weggespoel; die nou nekkie van die fontein is oopgeskeur; die natuurlike rotswal, waaragter die water opgestoot het, is vernietig en Bloemspruit het ’n gapende donga geword. Om toekomstige verspoelinge te voorkom, is die spruit met klippe uitgestraat en die fontein met ’n sementblad bedek. Onlangs is die spruit noordwaarts verby die fontein gekanaliseer met beton.
Die ou fontein is tot niet gemaak, maar selfs in droogtetye slaan ’n vogtigheid deur die sementvoeë en lewer die enigste blyk van sy eertydse bestaan en van die herkoms van die naam Bloemfontein.
(Bronsplaat 1964)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 203-205.