
DIE GEBOORTEPLEK VAN PRESIDENT M.T. STEYN, DIST. WINBURG
Nouliks ’n kilometer suid van Winburg draai ’n pad ooswaarts uit die nasionale pad na die Voortrekkermonument en die plaas Rietfontein. Op hierdie plaas staan ’n eenvoudige, nederige, langwerpige kliphuisie en daarin is M. T. Steyn, die laaste president van die ou Republiek van die Oranje-Vrystaat, op 2 Oktober 1857, gebore.
Marthinus Steyn, vader van die president, het op die plaas Josephinesdal in die distrik Winburg gewoon. Hy moes een keer dringend op sakebesoek na Swellendam, en daarom het hy sy vrou na sy swaer Theunis Cornelius Wessels op die plaas Rietfontein geneem om daar gedurende sy afwesigheid te bly. En so het dit gekom dat die toekomstige president in hierdie huis op die plaas van sy oom gebore is.
Hierdie huisie is nie slegs histories belangrik nie, maar ook argitektonies. Dit neem, net soos die kleihuis op Klipplaatsdrif, ’n belangrike plek in die ontwikkeling van ons volksargitektuur in. By die oprigting daarvan het die boer van die materiaal wat byderhand was, gebruik gemaak. Uit die nabygeleë randjie het hy die klip vir die buitemure gehaal, uit die leegte die rooigrond vir die rou bakstene vir die binnemure en uit die vlei die klei vir die vloere en die brandsolder, asook die riet vir die dak. Die huisie is in drie vertrekke verdeel: ’n slaapkamer, ’n voorhuis en kombuis.
In later jare is die stalle en krale somaar aan die ou huisie aangebou en die huisie self is ook as sodanig gebruik. Gelukkig het dit later in besit van die Stadsraad van Winburg gekom en is dit met groot sorg herstel.
(Bronsplaat 1952)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 223.