DIE KERK BY DINGANESTAT, MELMOTH

In die Makhosinivallei (Vallei van die Konings), wat ongeveer 38 km van Melmoth op pad na Vryheid geleë is, staan ’n sendingstasie van die Ned. Geref. Kerk. ’n Kerk met ’n besondere simboliek vorm die middelpunt van die sendingstasie en is die Afrikaner se lewende monument om hom te herinner aan die ontmoeting met die Zoeloevolk, wat in hierdie vallei ontstaan het.

Die geskiedenis wat verbeeld word, verwys terug na 1829, toe die Zoeloekoning Dingane sy indrukwekkende kraal en vesting hier gebou het, Umgungundlovu. In 1838 het hy aan die Voortrekkers grondgebied toegeken. ’n Traktaat is opgestel deur eerwaarde Francis Owen, die eerste sendeling wat Dingane daar toegelaat het.

In Dingane se stat is Piet Retief en sy makkers op 6 Februarie 1838 doodgeslaan. ’n Monument is by hulle graf by Kwa-Matiwane opgerig.

In die Voortrekker-Eeufeesjaar 1938 is die Geestelike Eeufeesmonumentfonds (GEM) gestig om sendingwerk onder Zoeloes te bevorder. In 1944 is die historiese Hlomo Amabutho deur meneer Hennie van Rensburg aan die Ned. Geref. Kerk geskenk en is Dingaanestat-sendingstasie aangelê. Hier waar eertyds soldate opgelei is, is begin om evangeliste en later leraars op te lei. Eerwaarde Stander, ’n nasaat van Hercules Malan, een van die geselskap van Retief, en dominee SD Simelane, ’n weeskind, het in 150 ’n kinderhuis opgerig. Onder ’n boom is erediens gehou en aanbid. Om sigbare gestalte te gee aan die historiese voorval en aan evangeliese versoening tussen Zoeloe en Afrikaner, is aan die argitek Paul le Roux, van Stellenbosch, opdrag gegee om ’n kerkgebou te ontwerp. Meneer Gawie Hoffman, van Kwa-Badale, bygestaan deur meneer PW van Heerden, wat die plaasbestuurder was, het die kerk gebou. Die dak van dekriet, afkomstig van Riversdal, is deur meneer Kosie Venter, van Hermanus, opgerig. Die kerk bied sitplek vir 450 mense.

Die totale koste het R32 000 bedra, waarvan die besondere dak alleen R12 000 gekos het. Die lewende baken is op 14 Desember 1969 ingewy. Professor PP Stander (toe eerwaarde) was inwydingspreker.

Van die Melmoth-pad na Vryheid en Babanango kan die 23 m hoë kruis al van ver af gesien word. Hierdie onmiskenbaar Christelike simbool met sy besondere boodskap, beklemtoon enigsins die uitgangspunt om ’n kerkgebou op die eertydse paradegrond van Dingane (Hlomo Amabutho) op te rig wat die Zoeloetradisie sou erken.

Die afgesonderde kerkterrein word betree deur twee ingange in ’n lae klipmuurtjie. Met sy twee arms rig die grasdakke die oog na die kruis, waar die ingang geplaas is. Vanaf die kruis in die rigting van Umgungundlovu herinner 120 jaarringe in die plaveisel die tydsverloop tussen barbaarsheid en die bou van die kerk tot ere van God. Die halfronde stoeppoort herinner aan die Zoeloeboukuns; latskuifhekke stel sy beskermende kraalmure voor, en ’n embleem bestaande uit skildvel, assegaaie en knopkieries vertel van die Zoeloe se glorietydperk.

Simbolies is die kruis die sleutel tot die deurgang na die kerkdeure met die Bybel daaragter. Wanneer die skuifhekke sywaarts skuif, verander die patroon van die embleem sodanig dat nie een van die wapens heel is nie. Toegang tot Gods Woord as antwoord op die verlede-situasie en as die rigsnoer vir die toekoms, was die sentrale tema van die ontwerp.

Die Bybel op die kansel word sterk belig van bo af deur hoë versteekte vensters in die dak.

Na die erediens stap die gemeente na vore en verlaat die kerkgebou deur sydeure langs die liturgiese ruimte, om sodoende uiting te gee aan gemoedsverandering en geloofsversterking. Die skadugewende arms van die kerk bring hulle weer terug na die middel van die terrein.

Gidse op die terrein vertolk die simboliek anders as die argitek. Hulle vertel dat die ontwerp gebaseer is op die bekende oskop-aanvalstegniek van die vegterkoning Tsjaka, wanneer hul veral verwys na die arms van die kerkgebou.

Meneer Paul le Roux, argitek, laat hom soos volg daaroor uit: “Die gidse se idee van ’n oskop-aanvalsformasie is bloot toevallig en skep eintlik ’n negatiewe konsep. Die kerk val niemand aan nie. Die bedoelde simboliek van die kerk se arms is ’n verwelkomende uitreiking van die Afrikaner en die Zoeloe, of aan die besoeker, na die Evangelie-boodskap van versoenende genade.”

Bron: Brown, E. 1989. Die kerk by Dinganestat. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 240–241.